Wyn van die Maand: Malanot The Flower Pot White Blend 2014

Date posted:
April 30, 2024

Ek’s altyd op soek na “nuwe” wyne, of dit nou enkelkutivarwyne of versnitte is. En by “nuwe” wyne bedoel ek onbekende of minder bekende kutivars en nuwe en interessante versnitte. Ek glo wyn is ’n wonderlike reis van ontdekking en verkenning, en dat mens nooit moet ophou soek na iets wat jy nog nie vantevore gerproe, ervaar en geniet het nie.

So stap ek eendag by ’n bekende kettingwinkelgroep se wynafdeling in op soek na iets anders, en my oog val op hierdie witte. Ek ken die Malanot-handelsmerk aangesien ek ’n paar jaar gelede die voorreg gehad het om Marius Malan te ontmoet tydens die bekendstelling van sommige van sy wyne.

Sonder om twee keer te kyk, vat ek die bottel. Toe ek twee weke later die bottel uit die wyn-yskas haal, sien ek vir die eerste keer dis uit die 2014-oesjaar en ek wonder of ek ’n fout gemaak het om dit te koop. Tien jaar sit darem nie in elke witwyn se broek nie.

Ek was verniet bekommerd. Hierdie interessante versnit bestaan uit nie minder nie as 6 wit kultivars - chenin blanc, grenache blanc, roussanne, verdelho, semillon en viognier - en bring die beste in elke kultivar na vore. Die vorige oesjaar s’n het net 3 bevat.

Hierdie Rhône-styl versnit se druiwe kom hoofsaaklik uit bosstokwingerde om suiwerheid van vrug en kompleksiteit te bewerkstelling, aldus die wynmaker. Die druiwe is met die hand gepluk en twee keer gesorteer, eers in die wingerd self en later weer in die kelder, om te verseker dat net die beste vrugte gebruik is vir die verskillende komponente. Daar is van sowel reduktiewe as oksidatiewe wynmaakmetodes gebruik gemaak en sommige komponente is in staaltenks gegis en ander in houtvate.

Hierdie spoggerige wyn laat jou tegelykertyd regop sit en kennis neem en agteroor sit en ontspan. Dis ’n bielie van ’n wyn wat jou bybly lank nadat die laaste druppels in jou keel afgesypel het.

Hy begin deur die oog te streel met sy ligte goue kleur, terg dan die neus met veelvuldige vrugtegeure en weelderige blomme-aromas (vandaar die naam), en streel dan die tong met sy heerlike geure van appel, pynappel, perske, appelkoos en suurlemoen, met sweempies sampioen, kamferfoelie en kruie, En voortdurend word jy herrinner aan sy naam!

Hy slaag die BLIK-toets (Balans, Lengte, Intensiteit, Kompleksiteit) met lof. Dis ’n wyn wat jy nét met goeie vriende deel, of geniet dit saam met disse soos seekos, pluimvee en slaai.

Dit lyk nie vir my of Marius na 2014 weer ’n Flower Pot White Blend gemaak het nie, wat bitter jammer is. As jy egter meer van sy wyne te wete wil kom, besoek gerus www.malanot.com.

einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram