Huldig die vroue van Suid-Afrika  met die uitsonderlike ‘vroue van Muratie’

Date posted:
August 10, 2022

Dit is Vrouemaand in Suid-Afrika, en watter beter manier is daar om die land se vroue te vier as met die “vroue van Muratie”.

Muratie buite Stellenbosch dateer uit 1685 en is dus een van die oudste plase in die land. Die lede van die “skoner geslag” het ’n groot rol gespeel om die landgoed te vorm, vroue soos Ansela van de Caab, Alice Sarah Stanford en Alberta Annemarie Canitz. Daarom word wyne van Muratie dan ook na hulle vernoem.

ANSELA VAN DE CAAB

Muratie se vlagskip-wyn, ’n Bordeaux-styl rooi versnit, bring hulde aan Ansela van de Caab wie se lewensverhaal dui op die stryd teen slawerny aan die Kaap in die laat 17de eeu.

Ansela, gebore en groot geword in die slawekwartier van die Kasteel, het verlief geraak op Laurens Campher, ’n Duitse soldaat in diens van die Nederlands Oos-Indiese Maatskappy wat die eerste eienaar van Muratie was, destyds bekend as De Driesprong. Tydens hul verhouding van 14 jaar het Laurens dikwels die 64 km na Kaapstad en terug gestap – ’n staptog van drie dae – om sy geliefde Ansela te sien.

In 1699 het Ansela Nederlands onder die knie gekry en is sy gedoop, en uiteindelik vry gespreek. Laurens het haar gaan haal, met haar getrou en hulle het drie kinders in die lewe gebring. Ansela het glo ’n groot rol gespeel om die plaas uit te bou. Hulle het die eerste wingerd op die plaas aangeplant, asook ’n eikeboom wat steeds op Muratie staan (regs). Hul eerste huis is vandag die tuiste van die MOK-galery.

Toe Laurens oorlede is, het Ansela die plaas geërf en sodoende een van die eerste vroulike afstammelinge van ’n slaaf geword om haar eie plaas te besit.

LADY ALICE SARAH STANFORD

Muratie se Lady Alice Méthode Cap Classique word uitsluitlik van pinot noir gemaak en is ’n “heildronk” ter ere van ’n dame vir wie elke dag ’n viering was, wat altyd die lewe en gees van enige partytjie was en wat die herehuis op Muratie gevul het met pret en plesier.

As die vrou van ’n senator wat Muratie in 1909 aangeskaf het, was Lady Alice ’n gasvrou duisend wat elke geleentheid omgeskep het in ’n fees van musiek en puik wyn. Die lewe op Muratie was volop feestelikhede: van middagetes, skemerkelkies, bankette, ghala-geleenthede en partytjies tot skiet, jag en tennis.

ALBERTA ANNEMARIE CANITZ

Muratie vereer Alberta Annemarie Canitz, die ywerige pionier wat een van die eerste vroulike wynplaaseienaars in die land geword het, met sy Merlot.

Dit het alles in 1926 begin toe Alberta en haar pa, die bekende Duitse kunstenaar en bon vivant, George Paul Canitz, perd gery en heel toevallig op Muratie afgekom het. Hulle het onmiddellik verlief geraak op die sjarme van die plaas en dit gekoop. Hulle het dit hul misie gemaak om die plaas op te knap en tot sy eertydse glorie te herstel.

Na haar pa se dood in 1958 het Alberta die plaas geërf en dit vir byna 30 jaar bedryf. Sy het voortgegaan om wyn te maak en perd te ry, tot diep in haar 80s, totdat, soos sy dit gestel het, “die perd te oud geword het”.

In die ouderdom van 87 en met geen afstammelinge het sy gesoek na ’n gepaste persoon om oor te neem, en dis waar Ronnie Melck die geskiedenis van Muratie voortgesit het. Ronnie was ’n direkte afstammeling van die legendariese Martin Melck (wat tesame met sy afstammelinge die plaas vir 134 jaar besit het) en die aankoop van die plaas was die verwesenliking van ’n droom om Muratie terug te plaas in die hande van die Melck-familie.

Besoek dus gerus vir Muratie en “proe” self sy geskiedenis.

Vir meer inligting, kontak Muratie by 021 865 2330 of info@muratie.co.za, of besoek www.muratie.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram