Zweigelt: Die rooiwyn vir witwyndrinkers!

Oostenryk se zweigelt is vandag geen vreemdeling meer op wynlyste nie. Sommeliers by van die gewildste restaurante en wynkroeë in groot stede is smoorverlief op Oostenryk se ligtende ster. Hoewel hierdie kultivar in net ’n paar ander plekke verbou word (soos Japan en Brits-Columbië), is dit absoluut sinoniem met Oostenryk.

Sy toename in gewildheid (aanplantings het met 50% toegeneem sedert 2000) is verstommend, maar nie verrassend nie. Zweigelt is een van die aangenaamste rooiwyne wat mens kan teëkom. Alkoholvlakke is laag tot matig en die vrug is duidelik en vriendelik. Dit kan jong, vars en lewendige wyne wees vir alledaagse genot. Dit kan ook vatverouderde keldertrotse wees, ’n nuwe fenomeen wat besig is om houvas te kry. Die lewendige, uitbundige rooi en pers vrugte sal die mond laat gons van plesier vir sowel rooiwyn- as witwyndrinkers. Zweigelt is ongetwyfeld die rooiwyn vir witwyndrinkers!

Wynmakers regoor Oostenryk eksperimenteer met zweigelt in nuwe en opwindende maniere.

Maar kom ons blaai bietjie terug. Zweigelt is ’n inheemse kruising van twee inheemse, Oostenrykse kultivars,  blaufränkisch en st. laurent. Blaufränkisch kan vleisagtig en speseryagtig wees met hoë suur en helder vrug. St. Laurent daarenteen kan aromaties wees met fyn, syagtige tanniene en donker bessievrugte. In kombinasie lewer die twee iets baie spesiaal met eienskappe van elke druifsoort wat bydra tot ’n puik geheel.

In 1921 het die botanis, Fritz Zweigelt, ’n “druifkweekstasie” by Klosterneuburg, ’n navorsings- en tegnlogie-instituut buite Wene, gevestig. Hy wou ’n druif ontwikkel wat wingerdsiektes kan weerstaan en goeie opbrengste kan lewer. Sy eerste groot sukses het in 1922 gekom met rotburger. Die naam was ’n saamgestelde woord van rooi (rot in Duits) en Klosterneuburg (die instituut). Die kultivar het redelik onbekend gebly tot in 1956 toe druiweboere opgelet het hoe goed dit ’n besonder strawwe winter weerstaan het. In 1975 is dit zweigelt herdoop ter ere van sy skepper.

Zweigelt maak ’n vriendelike en elegante wyn. Die aanvanklike vlaag rooi kersievrugte betree die sintuie op ’n unieke versnit van speserye – kaneel, viooltjies en ’n duidelike blommenoot. Die kultivar behou sy kenmerkende aromas van bottel tot bottel.

EINDE

 

2 thoughts on Zweigelt: Die rooiwyn vir witwyndrinkers!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>