Zonnebloem stel jong, kreatiewe witwynmaker aan

Sy’s jonk, sy’s kreatief en sy’s talentvol, en Kelly-Marie Jacobs gaan voortaan haar kreatiwiteit en talente blootstel by Zonnebloem as die nuwe witwynmaker. Haar loopbaan tot op datum is geplavei met inspirerende mense en ’n natuurlike affiniteit vir wynmaak.

Kelly-Marie se bande met Stellenbosch loop diep. Haar grootouers is oorspronklik van dié Bolandse dorp af. Hulle het mekaar by Stellenbosch se treinstasie ontmoet. Dit was egter die tydskrifartikel oor die wynmaker Debbie Thompson, nou die keldermeester op Simonsig, wat aanvanklik haar belangstelling aangewakker het.

“Ek wou altyd ’n aktrise gewees het. Ek het 10 jaar se spraak- en drama-ervaring! Maar toe ek die artikel oor Debbie lees, het ek onmiddelik geweet dat wynmaak my ware roeping is,” vertel Kelly-Marie.

“Ek het sedertdien en deur my reise geleer dat kos en wyn mense regtig bymekaar bring. Dis ’n gedeelde oomblik van plesier wat gesprekke aanvuur en wat jou knus in ’n kombers van sensoriese saligheid toedraai. Dìt, saam met die inspirasie van ander wynmakers wat nooit ophou eksperimenteer en innoveer om die wynbedryf te vorm nie, bring die volle potensiaal van die wingerde uit. Dit het die middelpunt geword van alles wat ek doen.”

Kelly-Marie het in Kuilsrivier groot geword, waar sy steeds woon, en het met ’n BSc-graad in Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch begin direk na sy van Settlers High School gematrikuleer het. Sy het vir vier jaar, vanaf 2013 tot 2016, by die Wes-Kaapse Departement van Lanbou gewerk, onder die Elsenburg Lanboukollege, waar sy geoes en lesings aangebied het in Wynkunde, Biochemie en Bemarking van Wyn. Sy het ook uitruilprogramme gereël met die CFPPA-wynskool in Beaune, Frankryk.

Sy het teen die einde van 2016 by Zonnebloem se span aangesluit as Assistant-Witwynmaker, en haar onlangse bevordering om volle verantwoordelikheid van die witwyne te neem, is ongelooflik opwindend.

“Ek word gedryf deur my visie om aan te hou groei binne Zonnebloem se ryk geskiedenis as een van Suid-Afrika se oudste name in die wynbedryf. Die wyn moet met soveel mense moontlik praat en soveel moontlik mense bereik. Dis een van die min wyne wat sowel ’n beginner aan die wonderlike wêreld van wyn kan bekend stel as wat dit meer gesoute wyndrinkers en versamerlaars betower.”

Sy het al baie gereis en was al twee keer in Boergondië in Frankryk, het ge-oes in die dorpie van Pommard en het al na Mendoza in Argentinië gereis om haar kennis oor wynmakery verder te verbreed.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>