Zonnebloem stel gul, nuwe Viognier met skroefdop bekend

Date posted:
September 30, 2009

Zonnebloem, een van Suid-Afrika se eerste vername wynhandelsmerke, het pas sy eerste witwyn met 'n handige skroefdop bekend gestel, die 2009-oesjaar van sy intense, ryk en komplekse Viognier. Dié heerlike koswyn volg op die eerste oesjaar van hierdie klassieke Rhône-variëteit wat in 2008 vrygestel is.

 

Zonnebloem Viognier 2009 is 'n volronde wyn met komplekse aromas van lemoenbloeisel, appelkose en tropiese vrugte in die neus, terwyl die verfrissende smaak behaag met vlagies vanielje wat die opvallende perske- en tropiese vrugtegeure heerlik aanvul.

 

Deon Boshoff, wynmaker van Zonnebloem se witwyne, het hierdie wyn gemaak met druiwe van uitgesoekte wingerde wat spesifiek in Stellenbosch en Wellington geleë is om 'n goeie kombinasie van suikervlakke, volheid en geure te verseker. In die kelder is die wyn op die afsaksel gelos en gereeld omgeroer om sodoende verder by te dra tot die volheid van die wyn in die mond.

 

Zonnebloem Viognier 2009 is die perfekte tafelgenoot en kan veral sy man staan teen speseryagtige kosse soos kerries en Thai-disse, sowel as seekos, maar is ewe lekker op sy eie en moet effens verkoel geniet word.

 

Zonnebloem Viognier 2009 is teen ongeveer R40 per bottel beskikbaar by toonaangewende wynhandelaars.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram