Zonnebloem se dinamiese wynmaakspan straal energieke doelgerigtheid uit, en is vas van plan om te sorg dat selfs meer mense sterk aanhangers van dié handelsmerk word. En net om te bewys hoe ernstig hulle is, het hulle hul planne met die media gedeel tysends ‘n heerlike middagete by The Test Kitchen in Woodstock waar watertandkos met smaaklike wyn meegeding het om die guns van ons smaakkliere. Dit was toe ‘n gelykop-uitslag!
Met die aankoms is ons tonge bedwelm met Zonnebloem se jongste Sauvignon Blanc. En toe is aan tafel plek ingeneem. Die heerlike voorgereg is afgesluk met Zonnebloem se 2011- Chardonnay, terwyl die hoofgereg (beesfilet in die pan gebraai wat my mond aan’t kwyl gesit het) deur een van my gunstelinge, Zonneboem se Lauréat (van die 2009-oesjaar), vergesel is. ‘n Tongbedwelmende nagereg is vergesel deur die Zonnebloem Shiraz Mourvédre Viognier 2009 wat byna almal aan tafel na hul asems laat snak het.
Maar kom laat ek vir Deon Boshoff, Zonneboem se keldermeester, aan die woord stel.
“Daar bestaan by baie mense 'n uitsonderlike affiniteit met Zonnebloem, en ons wil dít beskerm, al het wynliefhebbers deesdae 'n soveel groter verskeidenheid om van te kies,” sê Deon, wat verlede jaar in sy huidige pos aangestel is. “Ons wil mense met selfs meer balans en elegansie, maar ook ’n suiwerder druiwesmaak lok.”
Hy kry steun van twee wynmakers, asook ’n wingerdboukundige, wat almal vroue is, en glo hul invloed het baie gehelp. Bonny van Niekerk maak die rooiwyne en Elize Coetzee die wittes, en Annelie Viljoen as wingerdboukundige werk ten nouste met produsente saam.
“Hulle gekombineerde talente en vaardighede in wynmaak sorg vir meer nuanse.”
Hy sê dit is die gevolg van ’n veel beter begrip van die individuele wingerdblokke waarvandaan die druiwe kom, en beter mikrobestuur daarvan in die wingerde en kelder.
“Ons is dalk nog jonk, maar het groot agting vir Zonnebloem se lang geskiedenis,” sê Boshoff. “Dis vir ons ’n voorreg om met die talle voorsieners wat druiwe aan ons kelders lewer, saam te werk. Sommige van hulle doen dit al drie of vier geslagte lank. Hulle verstaan ons behoeftes en terselfdertyd leer ons gedurig van hulle. Hulle bied ons uitgebreide ervaring en tradisie en ons dra die moderne idees by. Saam werk dit uitstekend. Al ons produsente, dié wat lank met ons saamkom en dié wie se verbintenis met ons van meer onlangs is, wil saam effens groter ingetoënheid en terselfdertyd meer lewenskragtigheid in Zonnebloem se nuwegenerasiewyne bewerkstellig.”
Viljoen het as wingerdboukundige reeds vier oeste by Zonnebloem agter die rug. Die meeste van die druiwe verkry sy uit die Stellenbosch-gebied – van Helderberg tot by Stellenboschkloof, Jonkershoek, Devonvallei, Bottelary en Lynedoch. Sy het egter ook toegang tot druiwe van Darling, Malmesbury en die Perdeberg-gebied, en kan die heel beste druiwe vir Zonnebloem uit meer as 330 wingerdblokke kies – en elk van hulle het sy eie karakter. Al die druiwe word sonder uitsondering met die hand gepluk.
“Die voordeel van ’n lang verhouding met produsente is dat 'n mens met verloop van tyd die beste blokke vir ons doel kan identifiseer,” sê sy. “Die talle verskillende terreine, grondsoorte, hellings, kultivars, klone, onderstokke en opleistelsels, asook mesoklimate, skep ’n baie groot verskeidenheid waaruit ons die boustene vir elk van ons wyne kan kies. Ons hou die wingerde fyn dop en weet watter blokke mekaar aanvul. Só kan ons hulle soms gelyk oes, en dit help die versnyding in die kelder.”
Viljoen sê daar bestaan groot kameraderie onder die produsente, maar ook gesonde mededinging. Zonnebloem beloon elke jaar die beste produsent. “Ons stel die maatstawwe só op dat gehalte, vernuwing en diensvlakke gedurig verbeter, en dus kry ons die heel beste druiwe. Ons maak nou vyf wyne in beperkte hoeveelhede, en dis ’n goeie aanduiding dat ons toegang tot waarlik voortreflike druiwe kry.”
Coetzee sê sulke noue samewerking met voorsieners, en beter kennis van die kenmerke en mikroklimate van terreine, maak die beplanning van wyne in die wingerde moontlik. “Ons orkestreer die pluk van die druiwe beter en kry dit wanneer hulle op hul rypste is sodat ons al ons aandag aan wynmaak en versnyding skenk. Ons wyne moet steeds interessant en veelvlakkig wees, maar terselfdertyd ook meer subtiel.”
Die houtbehandeling van Zonnebloem se chardonnay is byvoorbeeld aangepas sodat die druiwe-, sitrus- en mineraalsmake duideliker na vore kan kom.
Bonny van Niekerk, wat al van 2007 die rooiwyne maak, sê die vyf oesjare het haar kans gegee om die wingerde te verstaan en te weet wat om te verwag. “Ons gee die kultivarkarakters kans om na vore te kom. Ons het ons tannien- en houtbestuur aangepas om ’n meer fluweelsagte profiel te skep, maar sonder om die vol, ryk druiwesmaak van ons rooiwyne prys te gee.”
Boshof verduidelik: “Wanneer jy ’n Zonnebloem-wyn van ’n jonger oesjaar proe, gaan jy geen groot verskil agterkom nie, maar wel ’n groter lewenskragtigheid bespeur. Ons werk is nog nie naastenby klaar nie – hou dus maar mooi dop.”
En ons drink daarop ... ‘n glasie wyn uit die Zonneboem-stal!
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast