Zandvliet Shiraz 2019: Pure genot in elke glas!

Dekades gelede, laaaaaaank voordat ek die opwindende reis van ontdekking wat wyn is, aangepak het, het ek met shiraz kennis gemaak. Dit was een van Zandvliet s’n. Ek kan nie meer die geleentheid onthou nie, of waar ek die bottel in die hande gekry het nie, maar wat ek wel steeds goed kan onthou, is hoe ek daai rooie geniet het, soveel so dat Zandvliet Shiraz ’n spesiale plekkie in my wynhart ingeneem het en ek vandag nog opgewonde raak as ek een oopmaak … in afwagting van die genot wat ek weet op pad is!

Toe Zandvliet se 2019-oesjaarwyn van hierdie kultivar dus onlangs by my opdaag, het ek geglo Kersfees is vroeg vanjaar. Of miskien wou die gawe mense wat vir Zandvliet se wyne verantwoordelik is – dis nou die “four cousins” van Van Loveren – my bederf vir Vadersdag.

Hoe dit ookal sy, dit was ’n baie aangename (en welkome) verrassing. Aangesien ek lanklaas ’n Zandvliet Shiraz onder die spreekwoordelike vergrootglas geplaas het (hulle word gewoonlik onvoorwaardelik aanvaar en geniet!), het ek onmiddellik aan die werk gespring om hierdie een bietjie deegliker “in oënskou” te neem.

Hierdie wyn se oorsprong is in wingerde teen ’n helling van die Cogmansrivier wat deur die landgoed vloei en in ’n kombinasie van kalksteen-, rooi klei- en verweerde skaliegrond. Die kalksteen en klei gee die wyn glo sy mineraalagtigheid en elegansie. Die sap het appelmelksuurgisting ondergaan en die wyn is vir tussen 18 en 24 maande in ’n kombinasie van Franse en Amerikaanse eikehoutvate verouder.

Zandvliet se 2019- Shiraz is in ’n medium styl gemaak wat hom nie net uiters drinkbaar maak nie, maar ook ’n puik kosmaat. Hy het ’n pragtige robynrooi kleur en stel aromas van pruime, swartbessies, peper en sweempies gemengde speserye in die neus vry. Soms verras hy met aromas van kersies en selfs kaneel. Hierdie geure word ook in die mond ervaar waar die wyn se soomlose, soepel en komplekse smaak ook tekens van donker sjokolade toon. Die blootstelling aan hout is goed geïntegreer en komplementeer die wyn uitstekend.

Ek laat selde toe dat toekennings my beïnvloed, maar ek moet darem net noem dat Zandvliet se wyne van hierdie kultivar al vele medaljes ontvang het, waaronder silwer op die gesaghebbende Decanter World Wine Awards, goud op die Old Mutual Trophy-wynskou, dubbele silwer twee jaar na mekaar op die Nasionale Wynkampioenskap, 4 sterre in die Platter-wyngids en goud op die Vitis Vinifera-toekennings.

Soos reeds genoem, is hierdie wyn heerlik op sy eie, maar sal hy ook vele disse na nuwe hoogtes voer, en ek sien die wynmaker stel selfs iets grênds voor soos ’n Franse boeuf bourguignon. En hoekom nie!

Teen slegs sowat R140 per bottel kan mens ook goed verstaan hoekom Zandvliet Shiraz een van Suid-Afrika se gunsteling-tafelwyne is.

Vir meer inligting of om aanlyn te bestel, skakel 023 615 1505 of stuur ’n epos aan zandvliet@vanloveren.co.za, of besoek www.zandvliet.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>