Wyntoerisme is aan’t toeneem regoor die wêreld

Die skakel tussen wyn en reis het oor die afgelope klompie jare al hoe sterker geword, hoofsaaklik danksy die wêreld se toenemende dors na wyn. Daar word beraam dat 15 miljoen Amerikaanse reisigers in 2014 op wynverwante reise gegaan het. En die inkomste uit wyntoerisme in die VSA het tussen 10 en 15% toegeneem tussen 2013 en 2016 tot ’n totale bedrag van $22 miljard!

Die United Nations World Tourism Organization het sy eerste globale konferensie oor wyntoerisme in 2016 in Georgië gehou. Altesaam 50 lande was verteenwoordig.

Die bekroonde reisskrywer, Joseph Rosendo, sê dat meer en meer reisigers “hul passie volg en op wynreise gaan. Dit maak sin want wingerde floreer in van die mooiste plekke op aarde en is dikwels ikone van ’n land se geskiedenis en erfenis … Reisigers kan hul passie vir reis, kos en wyn saam uitleef, drie menslike nastrewings wat ons nog altyd die geleentheid gebied het vir avontuur, genot en plesier”.

Hoewel wyntoerisme nie nuut is nie, het dit beslis nuwe lewe gekry in vandag se wêreld van reis en ontspan. Bordeaux is ’n goeie voorbeeld aangesien net die naam wynbesoekers al dekades lank daarheen lok. Tussen 2002 en 2016 het besoekergetalle aan hierdie bekende wynstreek met ’n verstommende 61% toegeneem. Nie alleen is daar meer besoekers nie, maar baie van hulle wil hul wyn op nuwe maniere ervaar. Wynprodusente hier bied dan ook ’n wyer reeks aktiwiteite aan om toeriste tevrede te stel, van druiwe pluk tot wyn versny.

In Suid-Afrika speel wyntoerisme ook ’n al hoe groter rol en produsente het geleer om hul aanbiedings so omvangryk moontlik te maak om besoekers vir langer te hou. Wyn, kos, verblyf, kultuur en die omgewing speel al hoe meer saam om dagbesoeke in naweek- en selfs langer besoeke om te skep. Om wyn te proe, kos te eet en te oornag, is vir baie toeriste net nie meer voldoende nie. Staproetes, bergfietsroetes, roeigeleenthede en die omgewing van die Kaapse Blommeryk word al hoe belangriker elemente van die oorkoepelende wyntoerisme-aanbieding.

Die ontwaking van die sogenaamde Nuwe Wêreld dra ook by tot die groei in wyntoerisme. En dis nie net die bekende wynstreke soos Stellenbosch, Franschhoek en die Swartland wat besoekers lok nie. Al hoe meer van die minder bekende wyngebiede, soos die Weskus, Worcester, Klein Karoo, Elgin, Botrivier, Strandveld en Stanford, het ook reeds infrastruktuur geskep om toeriste te akkommodeer. Sommige streke bied ook feeste aan om besoekers keer op keer terug te lok.

’n Ander sleutelfaktor in die sukses van wyntoerisme is om bewus te wees van besoekers se behoeftes. Van gerieflike tot weelderige verblyf, van gemaklike en heilsame kos tot fynproewerdisse, van rustige botaniese ervarings tot adrenalien-aktiwiteite, daar is vandag iets vir almal.

Streke en handelsmerke gooi hul nette wyd om die grootste getal besoekers te lok na hul eie, unieke hoekie van die wynwêreld en daar is baie aansporings vir wynreisigers. Gaan loer gerus op jou gunsteling-wynstreek se webblad, of wees bietjie meer avontuurlustig en gaan kyk wat die minder bekende wynstreke bied, en leef jou passie uit!

Waarheen gaan jy vanjaar reis agter wyn aan?

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>