Wynreis van Finland via Rusland na Pole lewer min opwindends op

Hoe verder noord mens reis in Europa, hoe kleiner raak die “wynkultuur” en hoe groter die “bierkultuur”. In die Tsjeggiese Republiek is ons meegedeel dat die Tsjegge die wêreld se grootste bierdrinkers is. En tog het hulle ’n wynbedryf, hoewel klein, wat ’n paar puik wyne maak. Dieselfde geld vir Duitsland, hoewel die Duitse wynbedryf groter en baie meer bekend is. In Denemarke is daar sprake van ’n ontwikkelende wynbedryf, terwyl ons ook plaaslike wyne in Swede raak geloop het.

 

Jors trolie op die dek met daai brandewyntjie in ‘n plastiekbeker! Hy’t darem teen die koel seebries gehelp!

Maar kom ons hervat die reis deur die “Noordelike Hoofstede van Europe en Rusland” waar ons laas gestop het. Ons is per skip van Stockholm na Helsinki, die Finse hoofstad. Dis ’n oornagvaart. Nadat ons ons kajuit gevind het, het ons het op die dek gaan sit en die laaste van die skraal middagsonnetjie geniet. Dit was tyd vir iets om die keel mee skoon te maak en ek het by een van die kroeë aanboord gaan aanklop. ’n Fris tannie met ’n skynbaar permanente suur uitdrukking het my aangekyk of ek van ’n ander planeet is toe ek vir Suid-Afrikaanse brandewyn vra. Ek is ’n Finse brandewyn aangebied, in ’n plastiekbeker!

 

Toe ek die suurdruif uitvra oor die brandewyn, is ek kortaf meegedeel dat die brandewyn wat vir Jaloviina gebruik word van Franse herkoms is. Jaloviina Tammi (regs), wat ek in die plastiekbeker gekry het, is glo ’n beperkte brandewyn wat van konjak gemaak is om Finland se eeufeesviering te gedenk. Die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf het niks te vrees uit Finland nie!

 

Vir aandete is die wyn, rooi en wit, tesame met bier by ’n soort drank-outomaat verkry deur jou glas onder die “kraan” te sit en dan die knoppie te druk. Daar was een vir elk van die drie drinkgoed. By navraag het die kelner verduidelik dat die witwyn ’n pinot gris uit Italië is en die rooie ’n cabernet cantor uit die Tsjeggiese Republiek. Of dit waar was of net ’n liegstorie om van ’n lastige kliënt ontslae te raak, weet ek nie, maar albei was heel drinkbaar. Op die vraag of daar enige Suid-Afrikaanse wyn aan boord was, het hy my aangekyk of ek van my sinne broof is!

 

Die Alahovi-wynmakery naby Kuopio.

Ons eerste dag in Helsinki was ’n soort orienteringsdag waartydens ons middagete by ’n taamlike fênsie restaurant geniet het, met wyne uit Frankryk! Weer eens het die kelner bittermin van wyn geweet en my net na die wynlys verwys wat by uitstek uit wyne uit Frankryk, Italië, Spanje en Australië bestaan het. Soos in Denemarke en Swede het ons liefs nie uitgewerk wat die ete in rand gekos het nie want ek sou sowel my eetlus as my drinklus verloor het!

 

Nes baie ander noord-Europeërs is die Finne nie juis bekend vir wyn nie, eerder bier en motorsport. Die Finne met wie ons gesels het in die hotel en elders het egter verduidelik dat hulle stadig maar seker aan wyn begin gewoond raak danksy kos-en-wyn-feeste. Die pasmaak van kos en wyn en spesiale geleenthede wat met wyn gevier word, neem ook toe.

 

Die Finne se “wynkultuur” is egter allesbehalwe verfynd en gesofistikeerd, so is ons vertel. Hulle drink glo totdat hulle neerslaan!

 

Die wingerde om Suomi.

Die gewildste rooiwyne kom uit Frankryk, Italië, Spanje en Chile, terwyl die meeste witwyn uit Suid-Afrika, Frankryk, Chile en Duitsland kom. Ons kon egter geen teken van Suid-Afrikaanse wyn opspoor die drie dae wat ons in die Finse hoofstad was nie. Die enigste wyne wat plaaslik gemaak word, word van bessies gemaak – appelliefie, framboos, aarbei, ens.

 

Ons is padlangs van Helsinki na St Petersburg in die noorde van Rusland en ’n paar dae later per sneltrein na Moskou.

 

Ek is weer eens geskok en teleurgesteld oor hoe min kelners van wyn in die algemeen weet, om van Suid-Afrikaanse wyn nie eers te praat nie. Die maklikste vir hulle is om jou ’n bier aan te bied.

 

Lekker pasteie in St Petersburg, maar jy sluk hulle af met bier.

Die kelder in beton en glas van die Gai-Kadzor-wynmakery.

Die grootste gedeelte van Rusland se oppervlakte is uiteraard nie geskik vir wynbou nie. Die meeste van hul wynboubedrywighede geskied in die Krim-, Krasnodar- en Rostov-streke. Die Russiese wynmark word gekenmerk deur ’n groot getal “laekosteprodukte”, soos dit aan my beskryf is, en die meeste wyn wat in die land verkoop word, word glo van druifkonsentrate gemaak. En tog is die land 11de op die lys van wynproduserende lande wat betref hektaar onder wingerd!

 

Rusland produseer wyn in verskillende style, insluitende vonkel- en dessertwyne. Daar is sowat 100 verskillende kultivars. Die rkatsiteli-kultivar verteenwoordig meer as 40% van produksie, terwyl ander kultivars aligote, krasnostop zolotovsky, cabernet severny, cabernet sauvignon, merlot, plavai, riesling, saperavi, clairette blanche, silvaner en traminer insluit.

 

Van Moskou af is ons per pad na Minsk, die hoofstad van Belarus. Tot duver het ons nog net wingerde en wynkelders in die Tsjeggiese Republiek en Duitsland gesien. Selfs sonder wingerde was die landskap deur elke land ’n pragtige skouspel van lowergroen heuwels en valleie, met hier en daar landbougrond om die “eentonigheid” te breek, en vele riviere en mere.

 

‘n Wit versnit uit ‘n Argentynse kelder het aandete in Minsk vergesel.

Nes in Rusland is die “nasionale drank” in Belarus vodka, van goedkoop-lig-in-die-broek-weergawes tot walglik gegeurde voorbeelde, en dan’s daar die regte, egte cholesterol- en plaak-verwyderende modelle wat selfs jou stopsels sal smelt en jou na jou asem laat snak.

 

Wyn in byna alle style word ingevoer en is glo heel gewild, maar moenie veel hulp van kelners verwag nie. Hulle plak eenvoudig ’n wynlys voor jou neer en maak dan of hulle jou nie verstaan nie. Jy wys met jou vinger na die wyn van jou keuse op die lys!

 

Hierdie pasteie van skaap-, hoender- en varkvleis in Trakai het die Franse rooiwyn broodnodig gehad om tot in my maag te beweeg. Hulle was so droog soos die Wes-Kaap!

Van Belarus af is ons na Litaue se hoofstad, Vilnius. In hierdie voormalige Oos-Blokland word wyn net van bessies en vrugte gemaak en leef wynliefhebbers ook maar van wynlyste af! Ons kuier hier het ’n besoek aan die manjifieke Trakai-kasteel op ’n eiland by die dorpie met dieselfde naam ingesluit. Trakai is sowat 30 km van Warskou af. Middagete in ’n tradisionele eetplekkie langs die meer het uit pasteie en ingevoerde wyn bestaan, en ek het die wyn nodig gehad om daai droë pasteie af te sluk!

 

Die Visegrad-wynroete in Pole.

Die laaste stop op ons besoek aan die noorde van Europe en Rusland was Pole. Hier is wynproduksie nog baie klein en slegs ses wynmakerye is geregistreer om wyn van druiwe te maak en verkoop. Die omgewing naby die stad Zielona Góra en in die weste van die land, Wroclaw in die suidweste, Kraków in die suide, die Podkarpacie-streek en Kazimierz Dolny in die suidooste het glo ’n lewendige “amateur”-wynbedryf, terwyl daar ook ’n paar wynmakerye in die wynstreek bekend as Noord-Poland is.

 

Nou-ja, so het ons besoek aan hierdie wêrelddeel geëindig. Die pragtige landskap, die baie mere en verskillende waterweë, ook in die hoofstede, en die ongelooflike kultuurgeskiedenis van dié stede sal ons nog baie lank bybly. Hoewel hierdie deel van die wêreld nie met die suide van Europa kan saampraat as dit by kos en wyn kom nie, was daar nogtans ’n hele paar verrassings op albei terreine.

 

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>