Wynmakers skud vere reg vir Veritas

Date posted:
July 3, 2009

Die Veritas-toekennings, Suid-Afrika se grootste, onafhanklike en gesaghebbendste kompetisie vir markklaarwyn, is om die draai. Wynmakers wat meen dat hulle ‘n kans staan om op hierdie jaarlikse kompetisie uit te blink, moet hul toppresteerders teen 12 Augustus inskryf. Laat inskrywings sal met spesiale vergunning en teen ‘n addisionele koste nog tot 21 Augustus aanvaar word. 

 

Hierdie wyne word van 31 Augustus tot 4 September by die Nederburg-veilingkompleks deur spesialispanele takseer. Beoordeling geskied volgens streng internasionale riglyne.

 

Vanjaar se wenwyne word op 10 Oktober by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) tydens ‘n glansdinee gekroon. Die Veritas-toekennings, nou in sy 19de jaar, word aangebied deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANW) ten einde die land se wynbedryf te bevorder en superieure kwaliteit en volgehoue uitnemendheid te vereer.  Wyne ding mee om titels van dubbelgoud, goud, silwer en brons, en die kompetisie raak jaarliks strawwer. 

 

Aangesien die Suid-Afrikaanse wynbedryf vanjaar sy 350ste bestaansjaar vier, stel die Veritasbestuur en -raad wynprodusente voor ‘n spesiale uitdaging. Die mikpunt is om ten minste 350 deelnemers te hê wat 2 500 wyne vir hierdie kompetisie – SA se oudste – inskryf.  Die wortel voor die neus is ‘n terugbetaling van R100 per ingeskrewe wyn aan elke deelnemer indien beide teikens bereik word. Kom ons mik vir ‘n rekordoes!

 

Die Veritas-inskryfvorm en -katalogus vir 2009 is aanlyn beskikbaar by www.veritas.co.za sowel as by die kantore van die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANW).  Kontak Elsabé Ferreira vir verdere inligting by (021) 807-3104, of stuur ‘n faks aan (021) 863-2079 of ‘n e-pos aan patricia@veritas.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram