Wyngeure: Wat is reg en wat is verkeerd?

Daar is goeie rede hoekom wynproeërs die wyn in hul glase in die rondte laat warrel voordat hulle hul neuse diep in die glas druk, met mening ruik voordat hulle ’n klein slukkie vat … en wat dan daarop volg. Mens se neus is glo die primêre bron van inligting oor die wyn wat geniet word, gevolg deur die tong.

Maar waar kom aromas en geure vandaan? Hoe ruik mens hulle? Watter geure kan mens byvoorbeeld in cabernet sauvignon, shiraz, pinot noir, chardonnay en sauvignon blanc verwag?

Om die geure in wyn te verstaan, begin by ’n vraag wat op die oog af eenvoudig klink:

Waar kom wyngeure vandaan?

Verbeel jou jy is ’n enkele atoom wat bo-op wyn in ’n glas dryf. Hier op die oppervlak is die wyn nogal onstuimig. Etanol-molekules styg op van die oppervlak van die wyn tydens verdamping en dra ’n hele rits aromatiese samestellings saam. Hierdie samestellings dryf tot in ons neuse en gee wyn sy vele geure. Maar dit verduidelik nie hoekom pinot noir-sap glad dieselfde ruik as pinot noir-wyn nie.

Wyngeure word geskep deur chemise reaksies tydens gisting (wanneer gis suiker in alkohol verander). Gisting skep honderde geursamestellings.

As kersies nie ’n bestanddeel van wyn is nie, hoekom ruik mens kersies in sommige wyne?

Op atomêre vlak lyk aromatiese samestellings in wyn identies as, of is spieëlbeelde van, reuke wat jy reeds ken. Wanneer jy kersies in wyn ruik, ruik jy dieselfde aromatiese samestellings wat ook van ’n varsgebakte kersietert afkomstig is.

Hier is algemene wyngeure per kategorie:

VRUGTE

‘n Illustrasie van geure wat in rooi- en witwyne gevind word.

Rooiwyne ruik tipies na verskeie bessies, kersies en pruime.

Witwyn weer ruik tipies na sitrusvrugte, boomvrugte (perskes, appels, pere) en spanspek.

BLOMME/KRUIE

Sowel rooi- as witwyn kan subtiele (of nie so subtiel nie) aromas van vars blomme, rose, groen kruie, blare, groente en stingels hê.

ANDER

Moenie verbaas wees as jy reuke van kaas, brood, melk, botter, spekvet, petrol, naellak, potplantgrond of petrichor (die aardse reuk wat mens kry wanneer reën op droë grond val of die reuk van nat teer in die somer) kry nie.

VEROUDERING/EIKEHOUT

Sommige reuke kom van die veroudering van wyn in houtvate en sluit in vanielje, bakspeserye, pasteikors, karamel, tabak, seder, koffie, leer en sjokolade.

Om meer oor aromas en geure van spesifieke kultivars te leer, tik net die naam van die kultivar in by die soekmasjien (search engine) van jou keuse.

As ek kersies ruik en jy ruik peper, wie is reg?

Kyk na jou neus. Nou verbeel jou iemand anders se neus, of kyk na iemand anders s’n. Hulle lyk nogal verskillend, nie waar nie? Verskille in ons fisiese eienskappe, tesame met hoe ons breins reuke prosesseer, verduidelik gedeeltelik hoekom ons verskillende geure en aromas in wyn ervaar.

Hou egter in gedagte dat elke kultivar wel sy eie stel basiese geure het waarmee almal met meer ervaring en kennis saamstem.

As jy sukkel om wyngeure te herken, kyk gerus na hierdie video … met ’n glas wyn in die hand.

NB: Vir diegene wat reken hul neuse ly aan geheuverlies, ek ken ’n meester-sommelier met ’n ondergemiddelde snuifer. Moet dus nie tou opgooi nie.

Moenie wag nie, span jou neus in!

Die volgende keer as jy ’n glas wyn optel, moenie sommer net drink nie. Wel, nie aanvanklik nie. Vat jou tyd en kyk of jy 3, 4 of 5 geure kan uitken voordat jy proe. Dis die geheim.

Dit, liewe wynvriende, is hoe mens ’n buitengewone proeër word … en wyn meer en meer geniet en waardeer.

Tjorts!

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>