Wyngeure die fokus op ProWein 2012

Date posted:
January 17, 2012

Drie invloedryke wynpersoonlikhede uit die sogenaamde Ou Wêreld gaan op versoek van vyf wynproduserende gebiede uit die “Nuwe Wêreld” ’n reeks meesterklasse met die fokus op wyngeure op ProWein 2012 in Dusseldorf in Duitsland aanbied. ProWein 2012 vind van 4 tot 6 Maart plaas.

ProWein is een van die belangrikste internasionale handelskoue vir die wynbedryf en lok gewoonlik uitstallings van sowat 50 lande, en trek nagenoeg 40 000 afgevaardigdes.

Die vyf wynproduserende gebiede wat in die normale gang van sake mededingers in die mark is maar in hierdie geval tot hul wedersydse voordeel met mekaar saamwerk, is Argentinië, Kalifornië, Chili, Nieu-Seeland en Suid-Afrika.

 

Die meesterklasse deur die drie Europese wynpersoonlikhede sal aangebied word onder die titel Flavours – A Whole New World@ProWein.

 

Twee van die drie aanbieders is bekroonde sommeliers. Waarskynlik die bekendste van die twee is Andreas Larsson, onder meer aangewys as die “beste sommelier ter wêreld” deur die Association de la Sommellerie Internationale. Ander titels wat hy hou, is dié van beste sommelier in Europa, beste Nordiese sommelier en beste sommelier in Swede. Hy is tans wyndirekteur van die vooraanstaande Sweedse restaurant PM & Vänner in Vaxjö, en is ook ’n wynskrywer en -opvoeder.

 

Ronan Sayburn MS, een van net 180 meester-sommeliers ter wêreld, is ’n voormalige wenner van die Sommelier van die Jaar-titel in die VK. Hy is die direkteur van wyn en spiritualieë van Hotel du Vin, ’n vooraanstaande groep boetiekhotelle in die VK.

 

Die derde lid van die paneel is Caro Maurer MW, die eerste Duitse vrou wat die kwalifikasie Master of Wine verwerf het. Maurer, wat in Bonn woon, lewer as wynskrywer gereeld bydraes vir talle vooraanstaande publikasies in Duitsland. Sy is ook ’n wynopvoeder en tree dikwels as beoordelaar by internasionale wynkompetisies op.

 

Die meesterklasse oor wyn uit die Nuwe Wêreld gaan die kollig laat val op die wyne van die vyf gebiede en wys hoe goed hulle met kos kombineer om hul veelsydigheid te beklemtoon en hulle te posisioneer as bekostigbare alternatiewe op wynlyste is. Die drietal gaan die kos- en wynkombinasies in ’n reeks seminare aanbied.

 

Su Birch, die uitvoerende hoof van Wines of South Africa, het gesê die doel van Flavours@ProWein is om “op ’n vars en smaaklike manier die klem te laat val op wat ons produseer. Dit is die derde jaar dat die vyf gebiede saamwerk. Elke jaar beklemtoon ons ’n bepaalde kenmerk wat ons in gemeen het, en wat ons ’n nuwe manier bied om ons allerbeste wyne bekend te stel. Vanjaar wil ons mense bewus maak van hoe goed ons wyn saam met kos smaak.

 

“Wyn draai veral om geselligheid en genot. Aan tafel word dit voorwaar die beste uitgedruk. Elk van die vyf lande gaan sy eiesoortige wynkarakter beklemtoon en dié geleentheid gebruik om te wys hóé goed die wyn met sowel innoverende as meer tradisionele geregte vaar.

 

“Ons het doelbewus drie persoonlikhede betrek wat in Europa opgelei is. Hulle kan nou hul eie ervarings en tradisies inspan in die kombinering van ons wyne met kos. Dit beloof opwinding, maar sorg ook dat die wyne vir ’n breë gehoor toeganklik sal wees.

 

“Ons is geweldig trots dat ons meningskeppers van Andreas, Caro en Ronan se gehalte het om aan sowel binne- as buiteverbruikhandelaars te wys wat ons wyn kan lewer.”

 

Birch het gesê die samewerking onder die vyf wynstreke toon, ondanks al strawwer internasionale mededinging, hul vermoë om bo nasionale belange uit te styg en die goeie naam van wyn uit die Nuwe Wêreld selfs sterker te laat staan.

 

“Die eiesoortigheid van elke streek se wyne kom geensins in die gedrang nie. Ons werk saam om die unieke kenmerke van elke streek uit te lig. Ons bied ’n reeks smake wat sorgvuldig saamgevoeg is.”

 

Gaan na www.flavours-prowein.com vir meer inligting.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram