Wyndruifoes laagste in jare, maar gehalte puik

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het in 2019 ʼn rekord lae oes behaal, grootliks vanweë die nagevolge van die voorafgaande droogte en wisselvallige weerstoestande gedurende die seisoen. Wynmakers is egter positief oor die gehalte van die se oes.

Die 2019-wyndruifoes word op 1 225 620 ton beraam volgens die mees onlangse beraming van die bedryfsliggaam Sawis (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting & -Stelsels) op 26 April 2019. Hoewel dit slegs 1,4% kleiner as verlede jaar is, het die opbrengs vir die tweede agtereenvolgende jaar gekrimp en is dit die laagste oes sedert 2005 toe 1 171 632 ton gepars is.

“Dit was ʼn uitdagende jaar vir ons wyndruifprodusente en kelders. ʼn Afname in die wyndruifoppervlak en onreëlmatige weerstoestande het tot die kleiner oes bygedra,” sê Francois Viljoen, wingerdboukundige konsultasiediensbestuurder van die bedryfsliggaam Vinpro, wat 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede verteenwoordig.

Hoewel die meeste streke goeie reënval gedurende die seisoen ontvang het, was die nagevolge van die voorafgaande droogte van drie jaar steeds sigbaar en wingerde en grond sal tyd neem om te herstel.

“Die na-oesperiode was steeds droog, wat beteken heelwat produsente kon nie noodsaaklike na-oesbesproeiing doen nie. Blare het dus vroeg geval en wingerde kon nie die nodige reserwes opbou om hulle deur die seisoen te dra nie, wat in ruil ʼn effek op korrelset en -groei gehad het,” sê Viljoen.

Uiterste weerskommelinge gedurende bot en blom, gevolg deur koel, winderige toestande gedurende set het tot minder en onegalige trosse en kleiner korrels bygedra.

“Die 2019-pars het uit twee dele bestaan – die eerste maklik met goeie weerstoestande en baie goeie druifontledings tot en met einde Februarie. Die tweede was moeilik, gekenmerk deur stadige rypwording weens koue, reënerige weer in Maart,” sê Viljoen.

Die Noord-Kaapse, Swartland-, Paarl- en Worcester-streke het groter oeste as verlede jaar gelewer, maar van ʼn lae basis na groot verliese in 2018. Breedekloof en die Kaap-Suidkus se opbrengste was ietwat kleiner. Robertson en Stellenbosch het ook kleiner oeste opgelewer, maar die Olifantsrivier- en Klein Karoo-streke is vir die tweede agtereenvolgende jaar die hardste deur die droogte getref.

Ondanks die kleiner oes kan wynliefhebbers wyne van goeie gehalte van die 2019-oesjaar verwag. Volgens Viljoen het die kleiner wyndruifkorrels groter geurkonsentrasie. Wyne word ook oor die algemeen gekenmerk deur goeie suur, suiker en elegansie, wat sprekend is van goeie gehalte.

Suid-Afrika is die agtste grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra sowat R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en het nagenoeg 290 000 mense in diens.

OORSIG VAN DIE STREKE:

Breedekloof: ʼn Oes soortgelyk aan 2018 ondanks ʼn moeilike parstyd en ongelykheid wat dit moeilik gemaak het om rypheid te bepaal.

Kaap-Suidkus: ʼn Kleiner oes, maar uitsonderlike gehalte aangesien hierdie streek tot ʼn mindere mate deur die droogte geraak is.

Klein Karoo: ʼn Baie uitdagende seisoen met selfs laer opbrengste as die vorige twee jaar vanweë die voortslepende droogte en haelskade in sommige gebiede.

Noord-Kaap: ʼn Geseënde 2019-seisoen met hoër opbrengste per hektaar en belowende gehalte.

Olifantsrivier: ʼn Tweede agtereenvolgende kleiner oes na ʼn rekord lae oes in 2018 weens die nagevolge van die droogte.

Paarl: ʼn Ietwat groter oes, maar van ʼn lae basis na ʼn heelwat kleiner 2018-oes weens die voorafgaande droogte en weerskommelinge.

Robertson: ʼn Moeilike seisoen het tot ʼn groot afname in produksie gelei, vir die tweede agtereenvolgende jaar. Gehalte lyk goed.

Stellenbosch: Ondanks goeie reënval is die streek steeds deur die voorafgaande droogte beïnvloed en is ʼn heelwat kleiner oes vir die tweede jaar ingeneem.

Swartland: Groter as ʼn baie klein 2018-wyndruifoes en die gehalte lyk belowend.

Worcester: ʼn Verbasend groter wyndruifoes na ʼn kleiner 2018-oes met wyne van goeie gehalte op pad.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>