Ek vind dit bitter moeilik om my gunsteling te kies as dit kom by goed waarvan ek baie hou, of dit nou kos, wyn, boeke, musiek, sportsoort of enigiets anders is. Dis soos om met ’n wonderlike, voorbeeldige vierling geseënd te wees en dan gevra word om jou gunsteling te kies.
Aangesien ek egter gereeld gevra word om my gunsteling-wyn te kies, en ek tot dusver hierdie moeilike besluit vermy het, het ek na vele nabetragting besluit om die spreekwoordelike stoute skoene aan te trek en Elgin Vintners se uitsonderlike versnit van sauvignon blanc en semillon as Planeet Wyn se heel eerste Wyn van die Maand aangewys.
Die versnyding van sauvignon blanc en semillon word beloon met die lewendige suur en heerlike geure van sauvignon blanc en die struktuur en mondgevoel van semillon. Hierdie duet is, op ’n manier, ’n moderne, vereenvoudigde weergawe van die klassieke wit Bordeaux-versnit waarin ook muscadelle, sauvignon gris, ugni blanc, colombard en merlot blanc ’n rol kan speel.
Die Wyn van die Maand bestaan uit 53% sauvignon blanc en 47% semillon en word The Century genoem ter ere van mnr. Douglas Moodie van Eikenhoff wat in September 2011 100 jaar oud geword het. Hy was een van die stigterslede van die Elgin-vallei se vrugtebedryf.
Die sauvignon blanc-druiwe is met die hand gepluk, ontstingel en gepars, en die sap is toe toegelaat om 8 uur lank dopkontak te hê onder droë ys. Nadat natuurlike gisting plaasgevind het, is ’n Franse kommersiële gis toegedien en het verdere gisting plaasgevind. Die semillon-druiwe is ook ontstingel en gepars, en toe toegelaat om in eiervormige betontenks te gis.
Na gisting is albei wyne toegelaat om ’n maand lank op die moer te lê voordat die komponente versny is. Die versnit is toe terug geplaas in 2 beton-eiers van 1 500ℓ elk en verouder vir nog 6 maande op die moer voor bottellering.
Hierdie fors dog elegante Bordeaux-styl versnit vang die oog met sy ligte geel kleur voordat dit die neus uitlok met aromas van wit peer, veselperske, vye en vinkel. Die mond word dan oorrompel met ’n crescendo van appels, kweper, wit peer en ’n wasagtige lanolien, terwyl ’n romerige mondgevoel gebalanseer word deur ’n hemelse mineraliteit, harmonieuse suur en skugter oesterskulp.
Op sy eie of saam met kos is hierdie wyn een allemintige plesier. Hy laat jou tegelyk regop sit en kennis neem en agteroor sit en onstpan, met ’n breë glimlag. En lank nadat die getalm in jou oog, neus en mond iets van die verlede is, talm hy steeds voort in jou kop!
Die wynmaker stel voor dat hy ook geniet kan word met vars oesters, pangebraaide koningklip met ’n romerige okkerneut-en-kaassous, suurlemoen-en-kruie-hoender, aspersies in ’n béarnaise-sous of oondgeroosterde eend. Ek kwyl binnensmonds!
Die Elgin Vintners The Century 2019 kos sowat R235 per bottel.
Vir meer inligting, skakel 021 848 9587 of stuur ’n epos aan info@elginvintners.co.za, of besoek www.elginvintners.co.za.
einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast