WOSA spoor produsente aan om nuwe markte te ontgin

Date posted:
April 20, 2012

Die uitvoervolumes van Suid-Afrikaanse wyn het in die eerste drie maande van 2012 goeie groei getoon deur met 21% toe te neem in vergelyking met die eerste kwartaal van 2011. Hoewel uitvoere hoofsaaklik deur grootmaat-verkope gedryf is, is goeie groei vir gebottelde wyn in nie-tradisionele markte soos Oos-Afrika, Rusland en Japan ervaar, sê Sue Birch, uitvoerende hoof van WOSA.

Die organisasie ondersoek tans ook die moontlikheid om die potensiaal van die Nigeriese mark te ontgin. Nigerië beskik oor die tweede grootste ekonomie in Afrika, met 'n verwagte jaarlikse groei in die BBP (bruto binnelandse produk) van 11,8% tot 2016. Die bevolkingsaanwas is 2,45% per jaar. Daar word voorspel dat Nigerië teen 2050 die land met die vierde grootste bevolking ter wêreld sal wees.

By 'n seminaar wat pas deur WOSA op Stellenbosch aangebied is oor wynbemarkingsgeleenthede in Nigerië, het Sapta Bhattacharyya van die wêreldwye navorsingsmaatskappy Aranca, gesê die volume wyn wat van 2007 tot 2011 na daardie land uitgevoer is, het teen 'n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 24,1% toegeneem.

Die waarde van die Nigeriese wynmark, wat nou op sowat $300 miljoen bereken word, sal na verwagting teen 2015 tot sowat $370 toeneem. Sowat 60% van alle wyn word tans uit Europa ingevoer. Suid Afrika is die naasgrootste verskaffer met 'n volume-aandeel van 22%.

Bhattacharyya reken dat sowat 5,2 miljoen mense, wat die top 10% van die inkomsteverdieners in 'n bevolking van 156 miljoen mense verteenwoordig, vir 43% van verbruikersbesteding in die land verantwoordelik is. Dit is hierdie groep wat as potensiële wyngebruikers geteiken word.


Suid-Afrika se wynuitvoer na Nigerië het in die twaalf maande tot Maart vanjaar met 12% toegeneem.

Hoewel verwag word dat die volume wyn wat in Nigerië verkoop word met 6% per jaar sal groei, sal die waarde daarvan slegs met 2% per jaar toeneem. Birch het gesê die potensiaal vir groei aan die bopunt van die mark moet egter nie geïgnoreer word nie.

“Baie van die wêreld se luukse-handelsmerke is nou in Nigerië beskikbaar, waaronder van die mees gesogte spiritualieë en sjampanjes wat gou by die land se welvarende verbruikers 'n gevolg opgebou het. Ons hoor van verskeie Suid-Afrikaanse produsente dat daar 'n lewendige belangstelling vir premie- en hoërprys-wyne bestaan.”

Volgens Bhattacharyya is die vraag hoofsaaklik na rooiwyn wat 73,6% verteenwoordig van alle wyn wat verkoop word. Hy meen dat daar sowat 'n miljoen verbruikers in die mark vir ultra-luukse-goedere is.

Birch het gesê aangesien ekonomiese bedrywighede in die land hoofsaaklik in die metropolitaanse gebiede van Lagos, Abuja, Kano, Kaduna, Onitsha en Port Harcourt voorkom, word potensiële wynmarkte daar ontwikkel in oorleg met top-hotelle en die res van die gasvryheidsbedryf in hierdie sentrums. WOSA se eie pogings sal egter gekonsentreer wees op die oorwegend Christen-suide van die land, het WOSA se bestuurder vir Afrika en die Amerikas, Matome Mbatha, gesê.

Volgens Bhattacharyya word sowat 70% van alle wyn deur invoerder-verspreiders die land binnegebring, terwyl die res direk deur kleinhandelaars en die gasvryheidsbedryf ingevoer word.

Hy het dit beklemtoon dat produsente daarvan moet kennis neem dat hoewel die koopkrag van verbruikers aan die toeneem is en daar 'n groeiende belangstelling in wyn bestaan, die mark desondanks uiters pryssensitief is. Ander faktore wat in ag geneem moet word, is die 50%-invoerbelasting, die omslagtige en duur burokrasie wat onder meer die registrasie van alle wyne by hul nasionale liggaam vereis, en politieke onrus en korrupsie.

Mbatha het gesê WOSA werk nou saam met die Suid-Afrikaanse Departement van Handel en Nywerheid om maniere te vind waarop die registrasieproses vir produsente in Nigerië vereenvoudig kan word. WOSA neem ook deel aan Suid-Afrika-week wat in Julie in Nigerië plaasvind waartydens wynproeë vir die handel, die media en uitsoek-verbruikers aangebied sal word.

Hy het die hoop uitgespreek dat die Nigeriese handel ook Cape Wine 2012, Suid-Afrika se driedaagse handelsuitstalling in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum, van 25 tot 27 September sal bywoon.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram