WORS, WYN EN JASMYN!

Date posted:
September 28, 2009

Met lente breek die seisoen vir witwyn aan .... dis nou maar wors. Errieda du Toit takel ‘n wynmaker in die kombuis wat haar wys waar Dawid die wors begrawe het.      

deur Errieda du Toit

Sauvignon blanc is een van die trendieste wyne ter wêreld – en as dit by kos- en wynparing kom, ‘n elegante vryer saam met salm tot sashimi. Mossels, ja. Soesji, ja. Perlemoen en garnale, beslis. In piekniekmandjies, met antipasti en Mediterreense styl alfresco-etes, sonder twyfel. Maar saam met wors?

Dis so ‘n kinkel in die koskabel waarop wynmaker Etienne Louw van Altydgedacht gewag het en hy stem tot ‘n kombuis-en-kelder-, wors-en-wynkragmeting in. “Dis hoogtyd dat ons bietjie die boereworsgordyn oopgooi en kyk wat met die spreekwoordelike anderhalfduimpie gedoen kan word.”

Louw se talente strek van kook, sing en kitaarspeel tot die maak van bekroonde wyn. Sy onlangse aanwysing as een van die ABSA Top Tien Pinotage-wynmakers wys sy veelsydigheid in die kelder. Soos die tien ander wynplase in die Durbanville-wynvallei  wat van 2 tot 4 Oktober hul kelderdeure oopgooi vir die Seisoen van Sauvignon-lentemakietie, gaan Louw fyn spog met die resultate van 2009 se fenomenale oesjaar.

Die kelder-en-kombuis-, wyn-en-wors-veldslag word gehou op ‘n dag met vlae lentereën. Serina Chambers van die hip en trendy Durbanville-winkeltjie Nerf-Af het die tafel gedek in ‘n kleurskema wat simbolies is van Kaapse lente: grys (aan-en-af-reënweer), geel (optimisme dat die son wel weer gaan skyn) en jasmyntakkies. 

Michael van Deventer van Durbanville Hills is die eenman-proepaneel. “Wors is nie so vergesog saam met sauvignon blanc nie. Die racy witwyn het genoeg ruggraat om deur die rykheid te sny.”

Die wors-en-wynproe skop af met ‘n canapé uit die era van kaas-en-wynpaarties. Destyds is Weense worsies, blokkies soetmelkkaas en die allergroenste, beetrooi of skreeugeelste cocktail-uitjies op tandestokkies geryg en erdvarkstyl in ‘n pynappel gedruk. Kookmaat Bonita Blom gee dit ‘n retro-koel makeover met  brosgebraaide Spaanse chorizo, mozzarella, asook piepklein kersietamaties en uitjies gekarameliseer met balsamiese asyn.  

Van Deventer hap, tuur, proe en wonder. “Die suur van die tamaties en uitjies stamp bietjie kop met sauvignon. ‘n Meer aromatiese kultivar soos ‘n droë gewürztraminer of riesling uit die vallei sal goed werk met die speserye in die chorizo.” 

 

 

Links: Boerewors bedien met botterskorsie-ravioli, ‘n romerige Gorgonzolasous en ‘n handvol kasjoeneute is die perfekte dansmaat saam met Altydgedacht Sauvignon Blanc 2009.

(Foto: Ian du Toit)

Andersins ‘n groot aanhanger van koljander-gegeurde boerewors, wou ek iets Mediterreens en bevinkeld soos salsiccia (Italiaanse varkwors) saam met sauvignon probeer.  

Die handgemaakte Italiaanse, vinkelgegeurde varkworsies het ek opgespoor by Nitida Degustazione – ‘n outentieke plaasmark. En ek bedoel waarlik met die hánd gemaak; in klein hoeveelhede deur Lorenzo en Miki Ciman van La Masseria in Durbanville. 

Sulke goeie wors maak jy gaar soos die worsmaker voorstel: in ‘n pan met ‘n deksel op en ‘n bietjie witwyn by. Salsiccia coll’uva (wors met druiwe) vat dit een stap verder. Na die wors stadig gaargemaak is, word ‘n paar worsies geprik sodat die sousies in die pan uitloop. Haal worsies uit die pan en hou eenkant. Gooi ‘n trossie pitlose druiwe in die pan en soteer tot verrimpeld. Gooi ‘n kelkie of twee witwyn by en laat die pansouse ietwat stroperig-bruin kook. Sit wors terug in die pan om op te warm. Bedien op ‘n groot opdienskottel met druiwekorrelsous bo-oor gegiet en ciabatta om die worssous op te mop. Van die oorskietwors sal daar later frittata gemaak word, gegeur met oondgeroosterde rooi soetrissie, vars basielkruid en bokmelkkaas.

Nog ‘n pasmaat saam met wors en wyn is aspersies met Parmesaan en krummels. Maklik genoeg: Skud aspersies in ‘n bakskottel met olyfolie en growwe sout. Rooster in baie warm oond vir 20 minute – skud die pan na 10 minute. Bestrooi die aspersies met growwe broodkrummels en Parmesaan en rooster onder gloeiende oondelement tot goudbruin.

As dit by kos en wyn kom, is daar gelukkig nie net een deksel vir elke pot nie. Die wynkenners reken dat ‘n 2008-oesjaar self ‘n beter troumaat vir die Italiaanse varkworsies kan wees as die fris 2009-sauvignon. Ek leer ook dat ‘n droë gewürztraminer ‘n goeie huweliksmaat kan wees vir die retro-chorizo want hierdie lekker wyn met sy lietsjiegeure is perfek vir geregte met sterker speserye en kerrie.

 

 

Regs: Aspersies met parmesaan en broodkrummels is ‘n geurige, in-seisoen bykos saam met wors en witwyn.

 

(Foto: Ian du Toit)

 

Wynmaker Etienne besluit op ‘n botterskorsie en boerewors-ravioli bedek met ‘n romerige gorgonzolasous en ‘n handvol kasjoeneute as pasmaat vir Altydgedacht 2009- sauvignon blanc. “Dis alombekend dat 2009 ‘n groot jaar is vir Durbanville se wyne; die wyne is besonder karaktervol want die druiwe kon ‘n langer tyd op die wingerd bly vanjaar,” verduidelik hy. 

 

“Boerewors en sauvignon blanc is nogal ‘n cheeky wyn-en-koskombinasie, maar hoekom nie? Hier agter die boereworsgordyn doen ons dinge soms op ‘n onortodokse manier en volg nie altyd die bekende paaie nie. Ek wou iets saam met my wyn voorsit wat vol verrassings is - soos die kontrei en sy mense. Die romerige gereg vra natuurlik ‘n wyn wat fris en vars genoeg is om deur die rykheid  te sny. Altydgedacht 2009 is so ‘n volbek blanc wat sy man kan staan.”

 

Van Deventer, die enkelman-proepaneel, stem saam en kroon die boerewors-, botterskorsie- en bloukaasgereg saam met blanc as die smaakpaar van die dag.

 

BOEREWORS MET BOTTERSKORSIE RAVIOLI EN BLOUKAASSOUS

 

1 pak gehalte boerewors

2 pakkies ravioli met botterskorsievulsel, gekook volgens instruksies (koop by ‘n plaasmark of by Woollies)

16 ml olyfolie

2 pakkies sprietuie (slaaiuie), fyn gesny

150g Gorgonzola of Simonzola

250 ml room

100 g kasjoeneute, gerooster

Varsgemaalde swartpeper na smaak

 

Maak boerewors gaar in braaipan tot bruin en sappig. Moenie prik nie en hou wors in een stuk. Om die sous te maak, verhit olyfolie in ‘n kastrol, braai die sprietuie liggies tot sag. Voeg die kaas en room by. Geur na smaak. Verhit tot deurwarm. Kook ravioli tot sag.  

Bediening: Plaas ravioli op ‘n dienbord. Bedek met ‘n spiraal boerewors. Giet gorgonzolasous bo-oor. Strooi geroosterde kasjoeneute oor.

 

Bedien met Altydgedacht Sauvignon Blanc 2009.

 

Probeer ook hierdie bobaas-blancs met blieng:

 

De Grendel Koetshuis Sauvignon Blanc 2009: Winemakers Choice Diamant-toekenning.

 

Michelangelo-bekroonde Nitida Club Select Sauvignon Blanc 2009; Diemersdal Eight Rows Sauvignon Blanc 2009 (goue wenner); Diemersdal Sauvignon Rosé 2009 (mees innoverende wyn); Durbanville Hills Rhinofields 2008; Nitida Club Select Sauvignon Blanc 2009 (Grand D’Or wenner) of hul 2009- Sauvignon Blanc 2009 (goud). 

 

2009 Old Mutual Trophy Wine Show: D’Aria Sauvignon Blanc 2008; Diemersdal Eight Rows Sauvignon Blanc 2008 of Hillcrest Sauvignon Blanc 2005 (silwer).       

Die Seisoen van Sauvignon word van 2 tot 4 Oktober 2009 gehou. Vir navrae of meer inligting, besoek www.durbanvillewines.co.za.

 

·         Inkopienotas: Koop La Masseria se Italiaanse varkworsies by Nitida se plaasmark (laaste Saterdag van die maand) of bestel by La Masseria in Everglen (021-976-0036).    

  

(Errieda du Toit is ‘n vryskut-kosskrywer en praat op RSG Huiskok-Glanskok.)  

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram