Worcester-wynstreek maai onder Veritas-medaljes

Date posted:
October 12, 2010

Die Worcester-wynstreek het behoorlik gemaai onder die Veritas-medaljes en sy wynmakers het met nie minder nie as 48 terug gekeer huistoe na afloop van vanjaar se Veritas-toekennings. Een dubbelgoue, tien goue, 11 silwer en 26 brons medaljes is ingepalm.

Die bekende Nuy Kelder in die Nuy-vallei net buite Worcester het die voortou geneem met ‘n dubbelgoud vir sy Rooi Muskadel 1988 in die Museumklas en nie minder nie as ses goue medaljes vir sy muskadels en dessertwyne. Die wennende muskadels is die Rooi Muskadel 2010, die Rooi Muskadel 2009 en die Wit Muskadel 2006, terwyl die Rooi Muskadel 1998, die Wit Muskadel 2005 en die Wit Muskadel 1989 hul dubbelgoue stalmaat in die Museumklas vir Dessertwyne ondersteun het.

 

Byskrif: Die wynmakers wat dubbelgoue en goue medaljes gewen het, is agter( vlnr): Alvi vd Merwe (Alvi’s Drift), Jandre Human (Overhex Private Cellar), Daneel Jacobs (Brandvlei), Henk Swart (Alvi’s Drift), Willie Biggs (Brandvlei), en voor: Christo Pienaar en Louwritz Louw, albei van Nuy-wynkelder.

 

Ander goue medaljes is toegeken aan Alvi’s Drift Privaat Kelder vir sy ongehoute Premium Selection Chenin Blanc 2010 en Overhex vir hul Soulo Sauvignon Blanc 2010, terwyl Brandvlei Kelder twee goues ingepalm het vir hul gehoute BC Wines Bacchanté Chenin Blanc 2010 en BC Wines Chenin Blanc 2010.

En om te dink Brandvlei Kelder roem homself op sy waarde-vir-geld-wyne! Wys jou net weer dat waarde vir geld en gehalte hand aan hand kan loop.

Silwer medaljes is onder andere gewen deur Alvi’s Drift, wat drie vir sy wit versnitwyne en een vir sy ongehoute 2010- Sauvignon Blanc huistoe gevat het; Aan de Doorns Kelder, wat ‘n silwer medalje vir sy 2010- Sauvignon Blanc en Muscat D’Alexandrie 2009 gewen het; en Eagle’s Cliff vir hul 2008- Shiraz/Pinotage.

Onder die brons medaljewenners is Conradie Family Vineyards met hul 2010- Sauvignon Blanc, 2008- Cabernet Sauvignon Reserve en 2008- Pinotage.

Die Veritas-toekennings gee erkenning aan wyne en brandewyne van buitengewone gehalte en die kenmerkende Veritas-simbool van uitnemendheid dien as gesaghebbende gehalteriglyn vir wynliefhebbers en –kenners.

Einde

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram