Worcester Wyn- en Olyfroete pak toerisme-uitdagings kaalvuis

Date posted:
March 23, 2011

‘n Nuwe naam. ‘n Nuwe Visie. ‘n Nuwe benadering tot wyntoerisme. Dis die Worcester Wyn- en Olyfroete, voorheen bekend as die Worcester-wynroete.

Hoewel wyn en olywe steeds die kern-elemente van die roete sal wees, gaan die klem voortaan ook gelê word op die fasiliteite in die streek en die groot verskeidenheid aktiwiteite wat aangebied word.

“Ons roete se visie is om, in samewerking met al ons lede, vennote en belanghebbendes, ons hele streek met sy ryk landbougeskiedenis sowel as sy vele toeriste-attraksies te bemark, nie net aan die mense van ons streek nie, maar wyer in die provinsie, nasionaal en internasionaal,” sê Elzabé Morkel, hoof- uitvoerende beampte.

“Ons wil dit doen deur middel van doeltreffende kommunikasie en bemarking, die ontwikkeling van ons teikenmarkte en die opheffing van ons onderskeie gemeenskappe.”

Die Worcester Wyn- en Olyfroete bestaan uit tien bekende wynprodusente, wat wissel van landgoedere tot koöperatiewe wynkelders, en twee ewe bekende olyfprodusente. Die lys toekennings wat sowel die wyn- as die olyfprodusente reeds ingepalm het, dui op die gehalte van die produkte wat uit hierdie streek kom.

Die wynprodusente op die roete is Aan de Doorns, Alvi’s Drift, Brandvlei, Conradie Family Vineyards, De Doorns, De Wet, Eagle’s Cliff, Nuy, Overhex en Stettyn, terwyl Willow Creek en Olivae die olyfprodusente is.

Links: Met die Breederivier wat soos 'n lewensaar deur die roete loop, is daar baie plek om baie aktiwiteite en avonture op en langs die water aan te pak.

 

Bo en behalwe ‘n verskeidenheid verblyf, van gerieflik tot weelderig, en eetplekke wat uitmuntende streekskos aanbied, bied die Worcester Wyn- en Olyfroete ook ‘n groot verskeidenheid aktiwiteite vir besoekers, van roei op die Breërivier tot seil op die Brandvleidam by Kwaggaskloof, van bergfietsroetes tot plekke waar jy jou 4x4-vaardighede kan toets, en van staproetes tot varswaterhengel.

“Ons is minder as ‘n uur en ‘n half se ry van Kaapstad af, wat die roete die ideale uitspanplek vir sowel naweke as vir vakansies maak, en hier is genoeg om te doen en te ervaar om selfs die kriewelrigstes besig te hou,” verduidelik Elzabé. “En as jy net ‘n blaaskans soek weg van die stad se geraas, sal jy nie sommer ‘n beter plek kry as die Worcester Wyn- en Olyfroete nie. Ons bied lafenis vir vlees en gees in ‘n landbou-omgewing wat ryk is aan geskiedenis.”

Besoek gerus die Worcester Wyn- en Olyfroete se webblad by www.worcesterwineroute.co.za vir meer inligting oor die wyn- en olyfprodusente, verblyf en eetplekke, asook vir die verskillende aktiwiteite.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram