Worcester se kelders maak stem dik op muskadelkompetisie

Date posted:
May 31, 2010

Drie van die tien kelders op die Worcester-wynroete het pas goue medaljes vir uitnemendheid los geslaan op die Suid-Afrikaanse Muskadelassosiasie se jaarlikse prysuitdeling by die Paarl. Net tien wyne het goud gewen, terwyl 5 met silwer en 11 met brons beloon is.

 

Byskrif: Die glimlaggende wenners van die Worcester-wynroete is, van links na regs, Ryno Booysen en Gert van Deventer (Aan de Doorns), Philip Vercuiel (De Wet), Johan Morkel (Aan de Doorns) en Louwritz Louw (Nuy).

 

Die wenkelders van die Worcester-wynroete is Aan de Doorns, wat goud vir sy 2009- Rooi Muskadel verower het, De Wet, wat goud vir sy 2008- Rooi Muskadel ingepalm het, en Nuy, wat ‘n goue medalje vir sy 2007- Wit Muskadel verower het.

 

“Die gehalte van die inskrywings was weer eens baie hoog,” sê Henri Swiegers, voorsitter van die assosiasie, “en dis duidelik dat die handjievol muskadelprodusente net die beste van hul produkte in die bottel sit. Suid-Afrikaners kan regtigwaar baie trots wees op die gehalte van die muskadel wat plaaslik gemaak word.”

 

Swiegers het bygevoeg dat hoewel net 27 inskrywings ontvang is, dit baie is as die klein getal produsente in ag geneem word.

 

“’n Tweede beoordeling van die goue medalje-wenners lei tot platinumtoekennings vir verpakking. Dis ons doel om voortdurent die beeld van muskadel uit te bou en daarom kyk ons ook na die verpakking van die produk.

 

 

“Muskadel is baie meer veelsydig as wat die meeste mense besef. Ja, dis ‘n uitstekende aptytwekker, en ja, dit gaan goed af met koffie na ‘n ete, maar muskadel raak by die dag meer gewild onder mense wat besef dit is nie net ‘n drankie vir die koue wintermaande nie, maar kan byvoorbeeld net soveel geniet word in die somer oor gebreekte ys. En mense wat van eksperimenteer hou, sal vind dat muskadel ‘n uitmuntende basis vorm vir die lekkerste en smaaklikste skemerkelkies.”

 

Einde

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram