Winters Drift stel homself met drie wyne bekend

Date posted:
August 21, 2012

Winters Drift-Wyne, die wynhandelsmerk van Molteno Brothers (Edms) Bpk, die uitgebreide boerdery-onderneming geleë op die plaas Glen Elgin in die Elgin-vallei, word amptelik bekend gestel met die 2011-oesjaar van hul Sauvignon Blanc, Chardonnay en Merlot Rosé. Hierbenewens sal Winters Drift se proefasiliteit, geleë in die geskiedkundige Elgin-stasiegebou op Glen Elgin, sy deure betyds open vir die somer.

 

Die Winters Drift-wyne, vernoem na die drif wat in die winter gebruik is om oor die Palmietrivier op Glen Elgin te gaan en wat deel uitgemaak het van die oorspronklike ossewapad oor die Overberg, bring hulde aan die merkwaardige storie en erflating van twee pionierende en filantropiese vrygeselbroers, Ted en Harry Molteno. Hierdie twee jongmans, seuns van John Molteno, die eerste premier van die Kaap, het Glen Elgin in 1903 gekoop en die res van hul lewens daaraan gewy om die plaas om te skep van ‘n beskeie groenteplaas tot ‘n omvattende vrugteplaas in die Elgin-vallei. Die vallei het juis sy naam van die Molteno’s se plaas gekry.

 

Links: Min wynkelders kan met 'n interessanter proelokaal spog as Winters Drift-Wyne!

 

In ‘n onlangse artikel in die Weekend Argus het Myrna Robins geskryf: “Min wynreekse behels ‘n storie so lank en so fassinerend as Winters Drift-wyne. Die antieke klok op die etikette van Winters Drift se wyne is meer as ‘n simbool van die verbygaan van tyd. Hierdie elegante klok, wat meer as 80 jaar lank tyd gehou het in die Molteno-broers se opstal op Glen Elgin, sal binnekort ‘n nuwe tuiste vind in Winters Drift se proefasilititeit op die Elgin-stasie. Daar sal dit die verlede met die hede bind in ‘n stylvolle herinnering aan landbousukses en voortgesette filantropie.” Die antieke klok op die etikette, ontwerp deur Anthony Lane, wys die jaar as 1903, die jaar waarin die Molteno-broers die plaas Glen Elgin aangeskaf het.

 

DIE WYNE

Winters Drift Sauvignon Blanc 2011 

Hierdie verfrissende en tipiese koelklimaat- sauvignon blanc het heerlike aromas van suurlemoenskil, vars appels en pomelo met sweempies gras, groen peperkorrels, aspersies en ertjies. Die wyn het so ‘n titsel semillon (3%) en bied ‘n fris, maar vol mondgevoel, ‘n heerlike mineraliteit en ‘n verfrissende lemmetjie-nasmaak. Die wyn is medium en elegant en kan nou geniet word of verouder tot 2014. Dis ‘n heerlike aperatif en paar goed met vars oesters, hoenderlewerpatee, ‘n sappige varkterrien en geroosterde lynvis. Dit kos landwyd sowat R57. 

Winters Drift Chardonnay 2011

 

Hierdie elegante, lig gehoute chardonnay toon heerlike aromas van ryp peer, botterkaramel en vanielje. Die hout is goed geïntegreer en ondersteun die heerlike geure van wit kaalperske in die mond. Geniet hierdie wyn nou of laat dit verouder tot 2015. Dit is ‘n ideale aperitif en ‘n puik pasmaat vir romerige hoendergeregte, groenkerrievis en gerookte mossels in ‘n ligte, speseryagtige sous, asook gerookte forel en bereide salmgeregte. Dit kos sowat R69.

Winters Drift Rosé 2011

Hierdie wyn het ‘n aantreklike salmkleur, die perfekte kleur vir rosé. Dit is 100% van merlot gemaak en toon ‘n komplekse verskeidenheid blomme- en rooskroonblaargeure, asook geure van rooi bessies en perskes. Die einde is sag met ‘n talmende nasmaak van tropiese vrugte en blomme. Die wyn is lig en elegant en kan nou geniet of tot 2014 gehou word. Geniet dit verkoel op sy eie of bedien met somerslaaie, soos ‘n Waldorf-slaai, romerige kaas en geroosterde seekos. Geniet die wyn ook met somerpieknieks of wanneer jy op ‘n luilekker Sondagmiddag ontspan. Dit kos landwyd sowat R46.

Al die druiwe vir hierdie Winters Drift-wyne kom van Glen Elgin af en die wyne is gemaak in die Gabriëlskloof –kelder, ‘n paar kilometer verder, onder die wakende oog van die wynmaker, Kobie Viljoen. Die Winters Drift Pinot Noir 2011 is ook in ‘n beperkte hoeveelheid bekend gestel. Dit is deur Koen Roose van Spioenkop Wines in Elgin gemaak. Slegs 700 bottels is gemaak, maar groter hoeveelhede sal in toekomstige oesjare die lig sien. Die Winters Drift Shiraz 2011 word vroeg in 2013 bekend gestel en die 2013-oesjaar sal ook die produksie van ‘n Méthode Cap Classique sien.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram