‘Wine Town’ rol die rooi mat uit vir ’n fees van plesier!

Van strikdasse tot braaibroodjies en alles tussenin, Wine Town Stellenbosch is ’n splinternuwe wynfees wat die beste van die Eikestad aanbied van Woensdag, 3 November, tot Sondag, 7 November.

In hierdie plaaslike “kos-en-wynversnit” is ’n reeks geleenthede wat by verskeie plekke op Stellenbosch en deelnemende wynplase aangebied sal word. Spesiale aanbiedinge op oornagverblyf sal besoekers aanmoedig om oor te bly en die volle ervaring te geniet. Uitspan en ontspan is die wagwoorde!

Om die gees lekker aan te wakker, val Wine Town Stellenbosch saam met die dorp se immergewilde Street Soiree-kuiers wat op 27 Oktober, 10 November,  24 November en 8 Desember gehou word.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor Wine Town Stellenbosch,” sê Elmarie Rabe, Stellenbosch Wynroetes se bestuurder. “As die eerste in sy soort is dit ’n opgeblase weergawe van ons gewilde wynfees wat in Augustus sou plaasgevind het, maar weens die inperking afgestel is. Met inperkingsregulasies nou op Vlak 1 is almal terug en slaggereed vir aksie.”

Om die fees te desentraliseer, beteken dat veiligheid steeds die hoof-prioriteit is. “Ons het dus by elke geleentheid beperkte sitplekke beskikbaar gestel, so vroeë besprekings is noodsaaklik,” sê Elmarie.

Die geleenthede gaan baie gewild wees omdat hulle ontwerp is om te vertoon presies wat Stellenbosch en sy wyne behels. Van die hoogtepunte sluit onder meer ’n wynproe van plaaslike wyne oor vyf dekades in. Stellenbosch Wynroetes vier vanjaar sy 50ste herdenking en die geleentheid sal die roete se evolusie met ’n wynproe van wyne van die 1970s tot nou vier.

’n Ander wonderlike feesgeleentheid word deur die streek se Cabernet Collective aangebied. Stellenbosch is veral bekend vir sy cabernet sauvignon en ’n wye verskeidenheid sal beskikbaar wees by ’n sonsak-deurstapwynproe van huidige en ouer oesjare wat deur meer as 20 produsente aangebied sal word. Die Stellenbosch Cabernet Collective bied “Cabernet through the Ages” aan by Ernie Els Wyne se nuut opgeknapte besoekersentrum en is ’n unieke geleentheid om raar en ouer oesjare – wat selde aan die publiek beskikbaar is – te vergelyk. Dis ’n móét vir alle cab-entoesiaste.

Wynliefhebbers sal ook danksy die Old Vine Project (OVP) die geleentheid kry om wyne van Suid-Afrika se ou wingerde te proe. ’n Meesterklas met ’n vergelykende proe van chenin blanc uit ou wingerde en van verskeie streke sal gevolg word deur ’n middagete deur die sjef Craig Cormack.

Die OVP sal ook gedurende die fees ’n deurstapwynproe aanbied waar wyne van sy  Stellenbosch-lede geproe kan word.

Die kollig sal op nóg ’n Suid-Afrikaanse kampioen-wynkultivar val by ’n aandete getiteld “Celebrate Chenin Blanc” wat deur Jeff Grier, die wynkenner en Chenin Blanc-assosiasie se ondervoorsitter, saam met die wynspesialis, Michael Fridjhon, aangebied word. Die aandete is ’n viergang-maaltyd deur die sjef George Jardine.

Daar word ook ’n baie spesiale aandete aangebied om Stellenbosch Wynroetes se mylpaal-herdenking te vier. Plase wat deurslaggewend was in wat die land se eerste toeriste-georiënteerde wynontdekkingsroete geword het, sal voor in die koor wees by Bertus Basson se Eike-restaurant. Familielede en kollegas van die oorspronklike stigters van Simonsig, Spier en Delheim sal stories oor ’n driegangmaaltyd en wyne deel.

Om die 50ste herdenking van Cap Classique te vier, neem die Cap Classique Producers Association en Simonsig hande om ’n informele deurstapwynproe op die kelder se grasperk aan te bied. Altesaam 20 produsente sal meer as 50 vonkelwyne te proe aanbied. Daar sal ook lewende musiek en kostrokke wees.

Nóg pret wag by ’n proe wat heel gevat Big Bottles, Bowties & Braaibroodjies genoem word. Jy het reg geraai, daar sal uit magnums (1,5 liter) en groter bottels geproe word. ’n Lekker tong-in-die-kiestoevoeging tot hierdie baie informele geleentheid vereis dat besoekers elkeen ’n strikdas moet dra – selfs al daag hulle in ’n kortbroek op. 

Top plaaslike sjefs sal hul weergawes van die geliefde Suid-Afrikaanse braaibroodjie oor die kole berei en ’n paar minder bekende wynprodusente sal hul wyne te proe aanbied.

Ander geleenthede op plase gedurende Wine Town Stellenbosch sluit in: 

  • First Sundays lewende musiek by Neethlingshof;
  • Wine Down in Wine Town by Muratie;
  • Skilpadvlei Oppieplaas, ’n deurstap-proegeleentheid;
  • Lanzerac Oppieplaas, ’n mini pinotage-fees;
  • ’n Piekniek-styl sondagbraai by Spier; en
  • ’n Wynmaker-middagete by Waterford Wines,aangebied deur die Upper Blaauwklippen Collective.

Vir meer inligting oor datums, plekke, pryse en voorwaardes, besoek www.wineroute.co.za/wineweek. Bespreek deur Plankton by https://plankton.mobi

Word deel van die sosiale media-gesprek oor die eerste Wine Town Stellenbosch en gebruik #WineTownStellenbosch #SWR50Years #StellenboschWineRoutes50. Gebruik @stellwineroute om met Stellenbosch Wine Routes op Facebook, Twitter en Instagram te skakel.

Rig alle navrae per epos aan info@wineroute.co.za of bel 021 886 4310.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>