Wim Truter, wat Nederburg se witwyne onder die keldermeester, Razvan Macici, maak, verlustig hom in die veelsydigheid van sy werk wat hom die kans bied om ’n groot verskeidenheid van wyne oor vele style heen te maak. Hy is egter gewoond daaraan dat die lewe hom gedurig in nuwe rigtings dwing.
Na vier jaar by Nederburg, eers as assistant-rooiwynmaker en daarna as volwaardige rooiwynmaker, het hy in 2009 die pad gevat. Die skuif na Angers in Frankryk was om ’n gesaghebbende, internasionale Erasmus Mundus-meestersprogram in oesjaar-, wingerdstok-, wyn- en terroir-bestuur te voltooi. Die kursus het hom ook na Italië en Spanje geneem.
Hierdie gegradueerde van die Universiteit van Stellenbosch het vroeër in sy loopbaan ook oesjare in Australië (McLaren Vale in Suid-Australië en die Margaret River in Wes-Australië), die VSA (Kalifornië se Sonoma-distrik) en Frankryk (Rhône-vallei) meegemaak.
Hoe voel dit om terug te wees en van rooi na wit wyn oor te skakel? “Dit was ’n baie interessante proses vir my en dit het beslis gehelp met die maak van sommige van ons houtverouderde wittes soos The Anchorman Chenin Blanc en die Young Airhawk Sauvignon Blanc,” vertel hy met verwysing na die Heritage Heroes-versameling van beperkte fynproewerwyne wat Nederburg onlangs bekend gestel het.
“Wanneer dit by wit wyne kom, vind die intensiteit van die fokus vir die grootste gedeelte aan die begin van die proses plaas soos ? mens probeer om hul jeugdige, vars en vrugtige karaktertrekke vas te vang. ? Mens ervaar die resultate ook relatief vroeg waar dit etlike jare kan neem in die geval van rooi wyne.”
Wim is veral trots op die goue Veritas-medalje wat die 2012- Winemaster’s Reserve Riesling, ’n kultivar wat hom groot plesier verskaf, ingepalm het. “Miskien is dit omdat rieslings bekend is vir hul lang lewe. Ek het dit geniet om die regte balans tussen elegansie, suiker en alkohol te skep.
“Op die oomblik is ek baie opgewonde oor die wingerde wat oor ’n verskeidenheid van nuwe areas aangeplant is en waar ons vroeg reeds uitstekende resultate gesien het. Ek is ook opgewonde oor die geleentheid om met wit kultivars van die Rhône te werk.”
Sy betrokkenheid by ’n uitgebreide wynreeks wat voorsiening maak vir ’n wye spektrum wyndrinkers laat hom op sowel kreatiewe as praktiese gebied groei. Die wyne sluit alledaagse wyne teen gewilde pryse in wat vruggedrewe is, wyne wat meer klassiek in styl is en ander wat bedoel is vir meer gespesialiseerde markte, insluitende mikro-cuvées. Wyne word in die wingerd beplan met baie van die wingerdbestuurspraktyke en later die keldertegnieke wat deur die uiteindelike prys bepaal word om te verseker dat al die wyne goeie waarde bied ongeag die plek wat hulle in die omvangryke reeks beklee.
“Deel van my meestersnavorsing het gefokus op opleistelsels en hul impak op die profiel van die druiwe. Ek het ook ’n bietjie ervaring van bemarking gedoen. Ek vind dit fassinerend om die maak van wyn uit soveel verskillende hoeke te benader. Van die Foundation- en die nuwe 56HUNDRED-reekse tot ons Winemaster’s Reserve-, Heritage Heroes-, Ingenuity- en Private Bin-wyne is dit ’n verfrissende en intens motiverende reis.
“Om die waarheid te sê, wat ek ook al doen, ek vind hoe dieper ek my daarin begeef, hoe interessanter word dit.”
Wim wil in die een of ander stadium ’n oesjaar in Duitsland meemaak, maar hy is ook gretig om die wingerde van Georgië en Moldova te ervaar. “Daar is so baie inheemse kultivars in hierdie streke wat ons nog nooit van gehoor het nie! Ek sal bitter graag meer wil uitvind.”
Dis drome vir ’n ander dag iewers in die toekoms in, sê hy. “Ek het tans soveel pret deur met so ’n puik en talentvolle span te werk.”
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast