Wie maak Suid-Afrika se beste chenin blanc?

Dit is weer tyd om vas te stel wie Suid-Afrika se beste chenin blanc maak. Die Chenin Blanc-vereniging, organiseerder van die jaarlikse Standard Bank/Chenin Blanc Top 10-kompetisie, nooi Suid-Afrikaanse wynmakers om vir vanjaar se kompetisie in te skryf. Hulle kan wyne in die styl van hul keuse vir beoordeling voorlê op voorwaarde dat die ressuiker nie 12 gram per liter oorskry nie.

 

Hierdie uiters kosvriendelike kultivar leen hom tot die mees uiteenlopende style, van lig tot gewigtig, van horingdroog tot naasdroog, van gehout tot ongehout. Om die veelsydigheid van hierdie druifsoort te onderstreep, het ʼn onlangse navorsingsprojek wat aan die Stellenbosch-Universiteit onderneem is, nie minder nie as 266 aromatiese beskrywings van chenin geïdentifiseer. Jip, 266!

 

“Ons vier die veelsydigheid van chenin. Dit is deel van sy aantrekkingskrag, en ons nooi wynmakers om dié wyne voor te lê waarop hulle die trotste is, ongeag die styl, solank die maksimum-ressuiker nie oorskry word nie,” verduidelik Ina Smith, bestuurder van die Chenin Blanc-vereniging.

 

Sy en haar kollegas het ʼn indrukwekkende paneel van beoordelaars vir die kompetisie byeengebring, waarvan drie wynmeesters (MW) is. Hulle sal al die inskrywings “blind” proe. “Die paneellede beskik saam oor ʼn magdom kennis van wynmaak, die wynhandel en die bediening van wyn,” sê Ina.

 

Dit is die vyfde jaar dat die kompetisie gehou word. Die produsente van die tien topwyne ontvang elk ʼn kontantprys van R25 000. ʼn Voorwaarde is dat die prysgeld in alle gevalle aangewend moet word vir ʼn volhoubare gemeenskapsprojek ten bate van wynplaaswerkers. Tot op hede is R850 000 op dié wyse aan opheffingsprogramme bestee.

 

“Die doel van die kompetisie is tweeledig,” het Willie du Plessis, Wes-Kaapse uitvoerende hoof van besigheidsbanksake van Standard Bank SA, die hoofborg, gesê. “Allereers gee dit erkenning aan Suid-Afrika se chenins van top gehalte, maar ewe belangrik is egter die erkenning wat dit gee aan die integrale bydrae wat wynplaaswerkers lewer tot die vestiging van Suid-Afrika as ʼn wêreldklas-bron van wyne gemaak van hierdie uitsonderlike kultivar.”

 

Inskrywings moet van 25 tot 28 Junie by Villiera buite Stellenbosch afgelewer word. Die wyne sal van 3 tot 5 Julie beoordeel word terwyl die name van die wenners in Augustus bekend gemaak word.

 

Besoek www.chenin.co.za vir meer inligting of stuur ʼn epos aan Ina Smith by ina.smith@iafrica.com.

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>