Ons keer terug na die Wes-Kaap vir ons volgende produsent in die reeks oor Suid-Afrika se twee brandewynroetes en hul vele bekroonde brandewynprodusente. Wel, eintlik na die Boland en die dorpie wat bekend staan as die “Pêrel van die Boland”, Paarl.
Die bekende Laborie-landgoed wat in die hart van hierdie Bolandse dorp en in die skadu van die majestieuse Paarlberg lê, het sy eerste brandewyn – die Laborie Alambic Brandy – aan die einde van 1997 uitgereik. En in 2010 het hierdie potketelbrandewyn die uitsonderlike eer te beurt geval om as die “Beste Brandewyn ter Wêreld” aangewys te word op die International Wine & Spirits Competition (IWSC) in Londen. Dié toekenning het die aantal kere dat ‘n plaaslike brandewyn uitgeblink het by hierdie hoog aangeskrewe kompetisie op ‘n ongekende nege uit twaalf probeerslae te staan gekom. Dit was ook die vierde agtereenvolgende jaar dat ‘n plaaslike brandewyn hier koning gekraai het!
Dié spesifieke Laborie Alambic, ‘n vyf jaar oue potketelbrandewyn, is ‘n ongewone versnit van hoofsaaklik chardonnay met ‘n titseltjie pinotage wat in ou rooiwyn-eikehoutvate verouder is.
“Die chardonnay gee struktuur, die pinotage bring wonderlike perske- en appelkoosgeure, en die geheel is afgerond met ‘n bietjie 10 jaar oue brandewyn om kompleksiteit aan die finale versnit te verleen,” verduidelik KWV se ervare baasdistilleerder, Kobus Gelderblom.
Laborie se geskiedenis in die maak van wyn dateer terug na 1691 toe die plaas aan Franse Hugenoot, Jean Taillefert, toegeken is. Die historiese geboue wat tussen golwende wingerde aan die voetheuwels van die Paarlberg lê, maak Laborie ? gewilde toeristebestemming vir plaaslike en internasionale besoekers.
Besoektye:
Oktober-Maart
Maandag-Saterdag: 09:00-17:00
Sondae: 11:00 – 15:00
April-September
Maandag-Saterdag: 09:00-17:00
Gesluit op Sondae
Kontakbesonderhede
Tel: 021 807 3390
Faks: 021 807 3196
E-pos: laborietastingroom@kwv.co.za
Webwerf: www.laboriewines.com
Keldertoere
Rolstoeltoegang
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast