Wes-Kaapse Brandewynroete: De Compagnie, Wellington

Date posted:
March 1, 2012

Vir ons vyfde brandewynprodusent in die reeks oor Suid-Afrika se twee brandewynroetes en vele bekroonde brandewynprodusente, gaan maak ons ‘n draai by Wellington.

 

In 'n landstreek wat bekend is vir sy majestieuse berge, oorvloedige somerson, oeroue eikebome en snerpende sneeuwinters, lê De Compagnie Wynlandgoed in die geskiedkundige Val du Charron, oftewel die Wamakersvallei.

 

Die landgoed van 27 hektaar lê knus weggesteek in die nou vallei tussen die hange van die Hawekwa-bergreeks en Groenberg. De Compagnie is geleë aan die Bovleipad, 5 km buite die skilderagtige dorpie Wellington.

 

Vir bykans drie eeue al word daar op De Compagnie geboer en wyn gemaak. In 1705 het die Verenigde Oost-Indische Compagnie die plaas Rustenburg toegeken aan Jan Laurense van Rostok. Volgens die voorskrifte van die VOC moes Van Rostok koring en eikebome aanplant en met vee boer.

 

In Februarie 2002 het Johann Loubser en Riana Scheepers, die bekende en bekroonde skrywer, die plaas oorgeneem. Om saam te val met die 400-jarige herdenking van die VOC se ontstaan in 1602 is die plaas herdoop na De Compagnie. Johann en Riana het dadelik begin met die liefdevolle proses van restourasie aan die pragtige 1795-opstal en die opknapping en uitbreiding van die bestaande wingerde.

 

Links: De Compagnie se heerlike tienjaaroud-potketelbrandewyn.

 

‘n Beperkte hoeveelheid van 100% dubbelgedistilleerde potketelbrandewyn van chenin blanc-druiwe is beskikbaar, sorgvuldig gedistilleer in 'n antieke alembiese koperketel wat vir die eerste keer in 1849 op die historiese plaas gebruik is. De Compagnie Premium Potstill Brandy is verouder vir 'n minimum van sewe jaar en die Vintage 10 Year is van 'n enkele oesjaar.

 

Die eindproduk is 'n diep, ougoud brandewyn met geure van vars vye met speserye en kaneel, en 'n onmiskenbare sitrusgeur.  Volrond, romerig, sag en baie verleidelik.

 

Besoektye per afspraak

 

Kontakbesonderhede

Tel:              021 864 1241

Faks:            021 864 3620

E-pos:          mail@decompagnie.co.za

Webwerf:      www.decompagnie.co.za

 

Einde

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram