Wêreldbekende Bisquit-konjak nou in Suid-Afrika

Date posted:
March 26, 2010

Die wêreldbekende Bisquit-konjak is nou in Suid-Afrika te kry nadat Distell die handelsmerk gekoop het.

 

Die vermaarde erfenis-handelsmerk kan teruggevoer word na 1819 toe die 20-jarige Fransman, Alexandre Bisquit, sy onderneming in Jarnac op die walle van die Charente-rivier gevestig het. Hy het gestam uit ’n familie van distilleerders wat reeds sedert 1750 konjak gemaak en verkoop het, maar is na oorlewering die eerste wat dit met sy eie handelsmerk gebotteleer het.

 

“Die toenemende gewildheid van Suid-Afrika se segment vir spesialis-potketelbrandewyn het groot belangstelling in fynproewersbrandewyn aangewakker, en dit sluit konjak in. Aanvanklike verkope laat ons glo dat Bisquit plaaslik sterk byval sal vind,” sê Lee-Anne Lotz, Bisquit se Suid-Afrikaanse handelsmerkbestuurder.

 

Bisquit is gesetel in Château Bisquit, ’n weelderige voormalige huis in die middel van die dorpie Cognac. Vincent Chappe, die besturende direkteur van Bisquit-Dubouche et Cie wat van ’n welbekende familie van konjak-spesialiste afstam, staan daar aan die stuur van sake.

 

Denis Lahouratate, Bisquit se keldermeester, sê konjak het gewoonlik ’n meer ingetoë en elegante struktuur in teenstelling met die uitgesproke, ryk druiwesmake van potketelbrandewyne uit die Nuwe Wêreld. Colombard en chenin blanc word die meeste gebruik om plaaslike brandewyn te maak, maar in Cognac staan ugni blanc voorop.

 

Twee van Bisquit se konjaks is plaaslik verkrygbaar, naamlik die VS Classique en die VSOP Fine Champagne. Die XO Excellence sal later in Suid-Afrika bekend gestel word.

 

Die VS Classique is ryk goudkleurig met tikkies amber. “Die neus laat ’n mens dink aan geure van die lente en die somer, soos appels, pere, kersie-pruime en sitrusvrugte, met sweempies wit blomme soos jasmyn en lelies, en ’n bietjie gemmer en vanielje,” sê Lahouratate. “Daar is ’n bevredigende vars en lenige palet van vrugte en hout, en ’n puik vanielje-nasmaak.”

 

In Frankryk word dit net so of met ’n ysblokkie geniet, maar ook met tonikum of vars pomelosap as ’n verfrissende drankie.

 

Die VSOP Fine Champagne is donkerder, sê Lahouratate, met “’n vrugte- eerder as ’n blommegeur, van droë appelkose, amandels, kaneel en naeltjies wat ’n mens aan die somer en herfs laat dink. Die ronde palet bevat spore van sitrus en vanielje, en daar is ’n fassinerende, byna kamferagtige nasmaak.”

 

Dié konjak, wat ’n goue medalje by die International Wine & Spirit Competition verower en in 2009 die hoogste punte in sy klas gekry het, word meestal net so of met ’n skeutjie water of soda geniet.

 

Die VSOP Fine Champagne kom van die voorste twee Cognac-streke, naamlik Grande Champagne en Petite Champagne. “Ondanks die naam het dit niks met sjampanje te doen nie. In Cognac word ’n versnit van Grande en Petite Champagne waarvan minstens die helfte uit die topgebied, Grand Champagne, kom, Fine Champagne genoem.”

 

Die vlagskip-produk, XO Excellence, is ’n versnit van lank verouderde eaux de vie. Dit het die mees intense kleur van die drie, en volgens Lahouratate “’n uitnemende neus met delikate vars blommegeure wat goed met pittige Oosterse geure vermeng is.

 

“’n Mens herken jasmyn, eksotiese houtgeure soos sandelhout, en tikkies kakao en tabak, vrugtelekkers en heuning. Dit is verstommend kompleks en geskakeerd, met geur-elemente van herfs, winter en lente. Dis stewig en gul op die middelpalet, met ’n sysagte en volryk tekstuur.”

 

Die kleinhandelprys van die Classique is sowat R260 en dié van die VSOP sowat R445.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram