Wen met Durbanville Hills se Rhinofields-wyne

Date posted:
May 27, 2009

Durbanville Hills het onlangs 'n unieke rugetiket op sy Rhinofields-reeks bekend gestel wat ook 'n eerste vir Suid-Afrika is. Die etiket vou uit in 'n verwyderbare boekie met besonderhede oor die reeks, die oorsprong van die naam en wat Durbanville Hills doen om te help met die bewaring van die bedreigde inheemse plantegroei bekend as renosterveld waarna die reeks vernoem is.

 

Renosterveld is een van die drie belangrikste plantfamilies van die Kaapse Blommeryk, die kleinste maar ook die rykste in terme van planteverskeidenheid van die wêreld se ses verklaarde blommeryke. Dit is ook die tuiste van talle soorte voëls en reptiele. 

 

Jackie Olivier, Durbanville Hills se handelsmerk-ontwikkelingsbestuurder, het gesê die idee van 'n volkleur-boekie is moontlik gemaak deur die jongste ontwikkelings in verpakkingstegnologie.

 

“Dit gee ons die geleentheid om die verbruiker van soveel meer inligting oor die herkoms en posisionering van Rhinofields te voorsien as wat konvensionele rugetikette ons toelaat. Ons glo daar bestaan by verbruikers 'n groeiende behoefte om die agtergrond te verstaan waarteen produkte ontwikkel is. 'n Kernboodskap in die generiese bemarking van Suid-Afrikaanse wyn in buitelandse markte is dat die enorme diversiteit van die Kaap se inheemse plantegroei weerspieël word in ons wyne en dat dit hulle uniek maak.

 

“In die Kaap leef ons in 'n simbiotiese verhouding met ons inheemse plantegroei. As 'n lid van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief (BWI) het Durbanville Hills reeds 20% van al die bewerkbare grond waarop die druiwe vir sy wyne gekweek word, vir bewaring opsy gesit. Die doel met die boekie is om hierdie betrokkenheid te onderstreep en ons verbintenis tot die bewaring van die wêreld waarin ons leef en werk, te beklemtoon,” het Olivier bygevoeg.

 

'n SMS-komponent is bygevoeg wat verbruikers die geleentheid bied om van Mei af elke maand 'n kissie Rhinofields te wen. Deur die korrekte antwoord te stuur op 'n vraag onderaan die etiket sal verbruikers outomaties vir die kompetisie ingeskryf word. Meer inligting omtrent die kompetisie is beskikbaar op www.durbanville.co.za.      

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram