Watter wyn sal met Indiese kerrie werk?

Almal het ‘n gunsteling-kerriegereg! Om jou gunsteling met ’n gepaste wyn te geniet, kan egter ’n uitdaging wees. Die speseryagtige geure van Indiese kos vind nie maklik pasmaats by rooiwyn nie, hoewel die ligter styl Beaujolais (van gamay-druiwe uit Boergondië in Frankryk), rooies uit die Loire-vallei soos Chinon (cabernet franc uit die Anjou-Saumur-streek) en die sagter barbara d’asti uit die Piemonte-streek van Italië goed pas by matiger Korma-, Rogan Josh- en Pacanda-disse. Sterker gegeurde disse soos Dopiaza en Bhuna vra egter sterker rooies. Zweigelt uit Oostenryk en fris shiraz’e uit Australië (en Suid-Afrika), en selfs zinfandel kan hier hul man staan.

Maar ons bly nie in Frankryk, Italië, Oostenryk of Australië nie! Suid-Afrika bied wel shiraz en zinfandel wat by bogenoemde disse kan pas, maar vir my is kerrie se beste wynmaat wit. Colombard, Muscadet, Semillon en Chardonnay (en versnitte van laasgenoemde twee) is normaalweg veilige keuses vir matige Tikka- tot selfs sterker Balti-kerries, of vir die warm/soet/suur geure van Dansak.

Gewürztraminer is ook ’n goeie maat vir Indiese kos aangesien sy unieke, speseryagtige aromas en geure in harmonie is met Indiese speserye, dikmelk en Oosterse kruie. Probeer gerus ook riesling, muscat en pinot gris. En moenie ’n vrugtige sauvignon blanc en viognier agterweë laat nie. En as jy in ’n rooi bui is, wat van ’n vrugtige pinot noir of merlot?

Ek het intussen ook verneem dat baie Indiese restaurante deesdae sjampanje op hul wynlyste aanbied. Aangesien vonkelwyn goed met kerrie werk, behoort Suid-Afrikaanse MCC (ook bekend as Cap Classique) beslis in ag geneem te word as ’n verdere opsie, so ook Cava (Spanje) en Prosecco (Italië).

Nes wyn op sy eie is kos en wyn ’n wonderlike reis van ontdekking en verkenning. Ja, daar is reëls, maar moet jou nie té veel daaraan steur nie. Per sot van sake, reëls is gemaak om gebreek te word. Wel, soms in elk geval!

Die volgende keer as jy kerrie maak, eksperimenteer bietjie met wyn. Dit sal jou help om die regte kombinasie in ’n restaurant te bestel, en dink net hoe jou aansien in die oë van jou vriende gaan styg!

Tjorts!

EINDE

One thought on Watter wyn sal met Indiese kerrie werk?

  • We did an interesting tasting about a year ago…. fruity, dry Chenin was the best white and Shiraz & Pinotage worked brilliantly! The very fruity & off dry whites that theoretically compliment curries were awful…. the food accentuated the sweetness in the wine & the sweet wine did nothing for the spice!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>