Waterkloof stel nuwe oesjaar van sy gewilde, droë rosé bekend

Date posted:
July 29, 2010

Waterkloof het sopas die 2010-oesjaar van sy gewilde, droë Cape Coral Mourvèdre vrygestel – ‘n wêreldbekende rosé en die blosende trots van die landgoed se gesogte Circumstance-reeks.

 

Die druiwe wat gebruik is vir hierdie stralende rosé met sy ligte koraal-pienk blos is afkomstig vanaf die Stellenbosch-area wat bekend is vir sy matige winters en lang, warm somers. Die koel, rooi grond waarin die wingerde geplant is, hou genoeg water om aan hierdie kultivar, wat eers later ryp word, te voorsien.

 

“Na ‘n koel groeiseisoen moes ons omtrent ons storie ken met die 2010-oesjaar wat uiters uitdagend was. Sterk winde van oor die 120 km/uur, gepaardgaande met reënstorms, het die opbrengs van die oes ‘n groot knou gegee. Gelukkig het die koeler klimaat tot laat in die somer vertoef wat ‘n positiewe uitwerking op die gehalte van die druiwe gehad het,” vertel Waterkloof se wynmaker, Werner Engelbrecht.

 

Die druiwe vir die Circumstance Cape Coral Mourvèdre 2010 is met die hand gepluk en tros en al delikaat gepars om slegs die beste sap te ontgin en te verseker dat die unieke omstandighede, kwaliteit en styl van die uitsoekwingerde deurgevoer word tot in die bottel. In sy poging om ‘n eiesoortige rosé te skep, het Werner berus by natuurlike gisting wat oor ‘n tydperk van drie maande plaasgevind het, waarna die wyn nog ‘n maand op die primêre afsaksels vertoef het voordat dit gebottel is.

 

Die Circumstance Cape Coral Mourvèdre 2010 is ‘n gesofistikeerde, delikate Kaapse rosé met sensuele geure van fynbos en rooibessies wat afsluit met ‘n droë nasmaak. Die kruidagtige geure sal selfs meer na vore kom soos wat die wyn verouder. Dit is ‘n besonderse rosé wat selfs die manne sal geniet weens sy droë, stewige karakter.

 

Die wyn smaak hemels saam met sampioen-pastadisse of truffels, en komplementeer ook vars seekos, soesjie en pikante, speseryagtige disse.                                                       

 

Die Circumstance Cape Coral Mourvèdre 2010 is beskikbaar teen R85 per bottel direk vanaf die Waterkloof-kelder of by uitgesoekte wynhandelaars en glansrestaurante.

 

Vir meer inligting en bestellings, skakel Waterkloof by 021 858 1292 of besoek

www.waterkloofwines.co.za.

 

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram