Waterkloof stel jongste oesjaar van Circle of Life White bekend

Waterkloof, die bekroonde biodinamiese wynkelder aan die buitewyke van Somerset-Wes, het die jongste oesjaar van sy gewilde Circle of Life White-versnit bekend gestel. Die Circle of Life White 2016 vertoon sowel die sagter hand in die kelder as ’n “groener” aanslag, en is ’n sprekende voorbeeld van die wyne wat ekovriendelike boerderypraktyke kan lewer.

Die wyn word net in uitgesoekte jare gemaak wanneer sy komponente op hul beste vertoon.

“Die Circle of Life White 2016 is fassinerend,” skryf Nadia Barnard-Langenegger, Waterkloof se wynmaker, in haar verslag. “Sy sauvignon blanc-karakter is prominent in die neus, met pragtige aromas van lemmetjie en appelliefie. Op die tong toon die wyn ’n lieflike vars suur en deeglike integrasie. Die chenin blanc word verklap in die digte mineraalhart en romerige middelmondsmaak – die ideale agtergrond vir wonderlike kompleksiteit en ’n talmende nasmaak.”

Die versnit bestaan uit 67% sauvignon blanc, 29% chenin blanc en 4% semillon.

Nadia sê die oesjaar waaruit hierdie wyn voortspring, was matig en baie droog. Die lente het gesorg vir oorvloedige sonlig en warm temperature. Biodinamiese wingerde kry onder hierdie omstandighede behoorlik kans om te skitter. Hul diep wortelstelsels, waarvan sommige tot ses meter diep is, hou die plant gesond.

“Met oestyd was die bessies klein, maar die geure was fantasties,” voeg sy by.

Waterkloof maak meestal op smaak staat om te besluit op watter stadium die druiwe gereed is vir pluk. Die druiwe word in die koel, vroeë oggendure gepluk, met streng seleksie in sowel die wingerd as die kelder. Hierdie oes was die eerste een waartydens die Waterkloof-span die nuwe Coquard-pars gebruik het. Die delikate parssiklus verseker die beste manier om sap te onttrek wat suiwerheid verseker – ’n integrale deel van die Waterkloof-wynmaakfilosofie.

Tydens die Circle of Life White se wynmaakproses is ’n kombinasie van ou 600 liter-vate en sement-“eiers” gebruik. Die twee hoofkomponente van die versnit is saam gegis.

“Dit het uiteindelik ’n beter geïntegreerde en meer volronde wyn tot gevolg,” sê Nadia (regs).

Om getrou te bly daaraan om wyn so natuurlik as moontlik te maak, word geen byvoegings soos suur of ensieme toegelaat nie.

“Ons verkies lang vat- en bottelveroudering voordat ons die wyn bekend stel,” sê Nadia. “Daar is baie maniere om balans en ’n lang mondgevoel teweeg te bring, waaronder byvoegings. Ons verkies die meer natuurlike aanslag deur die wyn langer op die gis te los en deur dit kans te gee om in die bottel te rus omdat dit soms langer neem vir versnitte om daardie perfekte integrasie te bereik.”

Waterkloof se Circle of Life White 2016 kos R160 per bottel.

Vir meer inligting of bestellings, kontak Waterkloof by 021 858 1292 of besoek www.waterkloofwines.co.za. Bly op hoogte van die jongste nuus deur @WaterkloofWines op Twitter en Instagram en @Waterkloof op Facebook te volg.

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>