Waterkloof se Peacock Ridge sprei sy vlerke met twee nuwe wyne

Date posted:
August 6, 2012

Waterkloof, bekend vir sy elegante wyne en asemrowende arendsblik oor Valsbaai, het sy toeganklike Peacock Ridge-wynreeks uitgebrei met ‘n splinternuwe tweetal om nou ook met ‘n Chenin Blanc en Shiraz te pronk.

 

Hierdie reeks, wat vernoem is na die trop wilde poue op hierdie bio-dinamiese wynplaas geleë teen die Schapenberg buite Somerset-Wes, bied gehaltewyne wat volrond, vruggedrewe en effens meer uitgelate as Waterkloof se Circumstance-wyne is, en teen ‘n billike prys.

 

“Ons splinternuwe Peacock Ridge Chenin Blanc 2011 en Peacock Ridge Shiraz 2011 vervolmaak ‘n unieke reeks wyne wat straal van individualisme teen ’n sakpasprys,” verduidelik Waterkloof se wynmaker, Werner Engelbrecht. Hy is al sedert die ontstaan van Waterkloof in beheer van die wingerde en wyn, en glo in tydsame, tradisionele wynmaaktegnieke met ‘n minimalistiese benadering.

 

By Waterkloof poog hy en sy span om so min as moontlik in te meng in die natuurlike ontwikkeling van die wyn – nie net in die wingerde wat hoofsaaklik organies verbou word en waar geen konvensionele plaagdoders, bestrydingsmiddels en kunsmis gebruik word nie, maar ook in die kelder.

 

Buiten die oop rooiwyngistenke, verwelkom hierdie 500 ton-kelder ook heeltrosparsing vir witwyne om te verseker dat die beste gehalte sap delikaat ontgin word, asook die gebruik van gravitasie om onnodige pomping en hantering te verhoed. As deel van hul “ongejaagde” wynmaakproses, steun Waterkloof slegs op natuurlike gisting in al hulle wyne.

 

Die druiwe vir die Peacock Ridge Chenin Blanc 2011 is afkomstig vanaf die voet van die Paardeberg in die Swartland, sowel as vanaf die befaamde “Goue Driehoek”-area in die Helderberg – wat ook Waterkloof insluit. Hier word gunstige grondsamestellings perfek aangevul deur ‘n koel seebries vanaf Valsbaai om die ideale omstandighede te bied vir ‘n stadige rypwordproses om sodoende intense geure en kompleksiteit by die druiwe in te boesem.

 

“Die ou bosstok-wingerde wat ons uitgekies het, het oor die jare hul eie natuurlike balans gevind en dit kom duidelik na vore in ons 2011- Peacock Ridge Chenin Blanc,” verduidelik Werner.

 

In sy poging om ‘n eiesoortige wyn te skep, het Werner berus by ‘n natuurlike gistingsproses wat nege maande geduur het. Die wyn het ook ‘n verdere maand op die sekondêre afsaksels deurgebring voordat dit gebottel is.

 

Die Peacock Ridge Chenin Blanc 2011 (links) skud sy vere met geure van kweper en steenvrug wat kompleksiteit aan die wyn verleen, en die heerlike tekstuur word gebalanseer met ‘n verfrissende natuurlike suurgehalte wat varsheid in die mond teweeg bring. Die wyn is ‘n uiters veelsydige pasmaat vir kos.

 

Vir die Peacock Ridge Shiraz 2011, wat in die Rhône-styl gemaak is en meer verfynd en kompleks van aard is as sy meer robuuste shiraz-naamgenote, het Werner en sy span ook besluit op bosstok-wingerde – ook geleë in die Swartland en teen die hange van die Helderberg – wat wyne van elegansie en finesse met ‘n verfynde tekstuur kan oplewer.

 

Na ‘n langsame, natuurlike gistingsproses is die shiraz vir ses maande in eikehout verouder voordat dit gebottel is.

 

Die Peacock Ridge Shiraz 2011 onthul nuanses van rooi- en suurkersies, sowel as speserye in die neus, terwyl ryp, sappige geure gebalanseer word met ‘n vars suurgehalte. Die wyn is ‘n uitstekende pasmaat vir kos en is net die antwoord vir geurige wildsvleisgeregte. 

 

Al die wyne in die Waterkloof Peacock Ridge-reeks – wat ook ‘n merlot en sauvignon blanc insluit – is direk vanaf die landgoed beskikbaar teen R59 per bottel, of wees op die uitkyk daarvoor by uitgesoekte supermarkte en wynhandelaars landwyd.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram