Waterkloof het uitstekend gevaar op London se 2011- Decanter World Wine Awards met ‘n goue medalje en die streekstrofee vir die Beste Suid-Afrikaanse Wit Enkelvariëteit duurder as £10 vir twee wyne in sy gesogte Circumstance-reeks.
Die trofee is toegeken aan die Circumstance Chenin Blanc 2009, terwyl die Circumstance Syrah 2008 die goue medalje ingepalm het.
Waterkloof, wat bekend is vir sy elegante Europese styl-wyne en volhoubare boerdery aan die hoogliggende dele van die Helderbergreeks, het altesaam ses medaljes en twee eervolle vermeldings ontvang. Hiermee het Waterkloof ook ‘n persoonlike beste prestasie tot op hede by dié wyntoekennings behaal.
Waterkloof se Circumstance-wyne is afkomstig vanuit ‘n amfiteater van hoog- en laagliggende wingerde waar uiteenlopende grondsamestellings en seebriese vanaf Valsbaai die perfekte groeitoestande bied vir ‘n stadige rypwordproses. Dit bied aan die druiwe die geleentheid om hul intensiewe smake, kompleksiteit en finesse langsaam en ten volle te ontwikkel.
“Die eiesoortige styl van elk van ons klassieke wyne word gedefinieer deur die unieke simfonie van omstandighede, insluitende die grond, ligging en karakter van die wingerde, wat elk ‘n belangrike rol speel in die vervolmaking van ‘n wêreldklaswyn, vandaar die naam Circumstance vir die reeks,” verduidelik die wynmaker, Werner Engelbrecht.
Die Circumstance Chenin Blanc 2009, wat slegs in beperkte hoeveelhede beskikbaar is, spruit vanuit ou bosstokwingerde wat hul optimale balans bereik het in terme van groei en produksie. Die chenin blanc-druiwe is van uitstaande gehalte en gee stylvol uiting aan ‘n komplekse karakter met ‘n natuurlike suurbalans en merkwaardige, gekonsentreerde geure.
Die druiwe is tros en al delikaat gepars en slegs die beste sap is gebruik waarna natuurlike gisting oor ‘n langsame tydperk van 17 maande plaasgevind het, wat aan die wyn sy veelvuldige dog harmonieuse vrugte-aromas en rondheid verleen. Die wyn is slegs lig filtreer voor bottellering.
Die Circumstance Chenin Blanc 2009 liefkoos met ‘n ryke spektrum van sitrus, appel en heuning in die mond, met natuurlike mineraalagtige finesse as kern. Verdere kompleksiteit kan verwag word soos die wyn verouder. Die wyn smaak vorentoe saam met gerookte salm of ‘n varklende met salie en sampioene.
Die Circumstance Chenin Blanc 2009 is beskikbaar vanaf R90 per bottel direk vanaf die Waterkloof-kelder, asook wêreldwyd by uitgesoekte wynhandelaars en glansrestaurante.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast