Waterkloof, die indrukwekkende ‘kelder in die wolke’ geleë aan die buitewyke van die Helderberg-wynlandstreek, se alomteenwoordige passie vir wyn seëvier in ‘n nuwe, moderne proekamer waar wynliefhebbers klassieke, Europese styl-wyne kan geniet in die nabye aansig van ‘n gravitasiekelder, wingerd en fynbosprag.
Vanaf die intrapslag by hierdie meesterstuk wat hoog pronk aan die hange van die Schapenberg - met selfs die skuins ligging wat funksionele voordele vir die wynmaakproses inhou - is dit duidelik dat hierdie landgoed sy passie vir wyn op sy mou dra – vir ieder om te sien en te ervaar.
Omhul in glas en sement, is dit die rye vate in die oop verouderingskelder wat jou eerste groet en dan lei na ‘n spoggerige, ruim wynproearea. Hier onthul groot ‘mure’ van glas die nuwe, werkende kelder met sy oop houtgistenke en dra die deursigtigheid by tot ‘n majestieuse gevoel van spasie en ‘n ongehinderde, uitgestrekte uitsig oor die plaas.
“Dit is hier waar die wynmaakproses vir twee maande van die jaar dan as te ware ‘n lewendige ‘teater’ sal bied - ‘n onmiddellike visuele konneksie tot Waterkloof se alomteenwoordige passie vir wyn,” vertel eienaar Paul Boutinot, ‘n gesoute Britse wyn-invoerder.
Al hierdie ervarings speel af teen ‘n asemrowende agtergrond van ‘n nimmereindigende uitsig wat strek oor Waterkloof se amfiteater van wingerde, die Helderberg en die Hottentots-Holland-berge, asook Valsbaai tot so ver as Kaappunt.
Byskrif: 'n Uitsig wat die asem wegslaan! En die wyn doen glo dieselfde.
“Ter ondersteuning van ‘n gevestigde ‘slow wine’-filosofie, in terme van die maak sowel as die genot van wyn, wou Waterkloof graag ‘n wêreldklas-kelder oprig wat byderwets is, maar ook toegerus is vir tydsame, tradisionele wynmaaktegnieke met ‘n minimalistiese benadering,” verduidelik Werner Engelbrecht, wynmaker.
Die nuwe proelokaal smelt gemaklik saam met die elegante ‘glaskubus’- restaurant wat beoog om op 1 November 2009 oop te maak.
Die nuwe Waterkloof-kelder en -proelokaal is oop vir die publiek vanaf Maandae tot Vrydae tussen 09h00 - 17h00 en op Saterdae en Sondae vanaf 10h00 - 15h00.
Vir meer inligting, skakel Waterkloof by 021-858-1292 of besoek
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast