Waterkloof onthul tweede oesjaar van sy elegante Circle of Life Red

Date posted:
June 1, 2011

Waterkloof, bekend vir sy passievolle toewyding tot volhoubare boerdery aan die hoogliggende hange van die Helderberg, het sopas die 2009 Red-oesjaar in sy uitdrukkingsvolle Circle of Life-reeks onthul.

 

Dié elegante rooiwynversnit word deur die landgoed beskryf as ‘n alomvattende uitdrukking in pas met Moeder Natuur se lewensgang wat in Waterkloof se amfiteater van wingerde ten volle gerespekteer word.

 

“Ons Circle of Life word gemaak van druiwe uit wingerde wat bio-dinamies geboer word en ons berus slegs by natuurlike gisting om wyne met ‘n natuurlike laer swaweldioksiedinhoud te lewer. Waterkloof se filosofie is dié van minimale inmenging en om die natuurlike siklusse van die wingerde te respekteer. Ons glo ook in ‘n ongejaagde wynmaakproses siende goeie goed mos kom na diegene wat bereid is om te wag,” vertel die wynmaker, Werner Engelbrecht.

 

Geskoei op dieselfde “bloudruk” as die Circle of Life White 2009 en 2010, is hierdie tweede rooi oesjaar ook geskep ter opsomming en uitbeelding van die landgoed se unieke ligging met sy uiteenlopende grondsamestelling en klimaatstoestande.

 

Ek beskou die wingerd as die perfekte voorbeeld van die natuur se vermoë om homself jaar na jaar te vernuwe, en die naam, Circle of Life, vier die hernuwing van die natuur. Ons Circle of Life-reeks is geïnspireer deur hierdie ongelooflike natuurwiel wat net aanhou draai en draai, ook hier op Waterkloof,” sê Werner.

 

Waterkloof Circle of Life Red 2009 is ‘n crescendo van unieke omstandighede afkomstig vanaf uitgesoekte wingerde waarvan party strek tot bykans 300 meter bo seespiëel en wat ieder daadwerklik bygedra het tot die vervolmaking van die verskillende komponente in die versnit.

 

Hierdie “bio-dinamiese pronkperd” is nie ‘n wyn wat deur ‘n spesifieke wingerd of variëteit geïnspireer is nie, ook nie deur ‘n spesifieke styl soos byvoorbeeld ‘n Bordeux-versnit nie. Dit is een wat die totaliteit, filosofie en spesifieke hoedanigheid van Waterkloof – idillies gelëe teen die hoogliggende hange van die Schapenberg buite Somerset-Wes – verteenwoordig.

 

Die Bordeaux-variëteite in die versnit is eers ontstingel, terwyl die Rhône-variëteite, afhangende van die rypheid van hulle stingels, sommer tros en al gegis is, maar Werner is huiwerig om die presiese komponente waaruit hierdie versnit bestaan, te onthul aangesien dit die wyn dalk van sy mistieke sjarme kan ontneem.                                                              

 

Werner se rooiwyne berus by natuurlike gisting in oop houtgistenke en die wyn het tot 40 dae op die doppe vertoef voordat dit gepars is.

Die Waterkloof Circle of Life Red 2009 is ‘n klassieke wyn met spesery- en cassis-nuanses wat aanvanklik domineer. Die sagte, sappige vrugte in die mond word omhul in ‘n elegante raamwerk van sysagte tanniene. Die wyn sal met tyd meer kompleks word.

 

Waterkloof Circle of Life Red 2009 is beskikbaar vanaf R140 per bottel direk vanaf die kelder of by uitgesoekte wynhandelaars landwyd.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram