Waterkloof onthul nuwe Sauvignon Blanc-trio

Date posted:
March 23, 2011

Waterkloof, bekend vir sy Europese styl-wyne en asemrowende arendsblik oor Valsbaai, het sopas die 2010-oesjaar van sy drietal Sauvignon Blancs vrygestel – elk klassiek in styl en eie aan die unieke terroir van dié wynparadys aan die buitewyke van die Helderberg.

 

Die landgoed, geleë teen die golwende hange van die Schapenberg buite Somerset-Wes, se jongste Sauvignon Blanc-trio bestaan uit die elegante vlagskip, Waterkloof Sauvignon Blanc 2010 wat gemaak is in ‘n geborge styl met ‘n sterk mineraal-karakter; die ietwat meer uitdrukkingsvolle Circumstance Sauvignon Blanc 2010, en die Peacock Ridge 2010 met sy meer volronde lyf.

 

Waterkloof, of soos wynmaker Werner Engelbrecht dit noem sy “amfiteater van sauvignon blanc’’, se ligging trek voordeel uit koeler klimaatsomstandighede en van die beste groeitoestande wat ideaal is vir die stadige, egalige rypwordingsproses van die druiwe en ‘n uitsonderlike kwaliteit by dié witwynvariëteit inboesem.

 

“Elkeen van ons sauvignon blancs word gedefinieer deur ‘n unieke sameloop van omstandighede wat insluit die verskillende grondsamestellings, ligging en eiesoortige karakter, asook die spesifieke mikro-klimaat van elk van die wingerde,verduidelik Werner.

 

Tesame bied die nabyheid van die see ook die perfekte groeitoestande vir ‘n langer, egalige rypwordingsproses om sodoende intense, gekonsentreerde geure en ‘n hoër natuurlike suurheid in die druiwe te verseker.

 

Die druiwe word tros en al in die gravitasiekelder gepars om te verseker dat die herkoms en kwaliteit van slegs die beste druiwe in die bottel vasgevang word. As deel van hul “rustige” wynmaakproses maak hulle ook slegs staat op natuurlike gisting in al hulle wyne.

 

Waterkloof Sauvignon Blanc 2010

 

Die Waterkloof Sauvignon Blanc 2010, wat slegs in beperkte hoeveelhede beskikbaar is, is afkomstig van uitgesoekte, hoogliggende wingerde waar die bulderende suidooste- en noordwestewinde sorg vir ‘n baie lae opbrengs van slegs die beste druiwe wat elegant ‘n mineraalagtige kruitsmaak oplewer.

 

Stadige, natuurlike gisting in eikehout verleen kompleksiteit, tekstuur en gewig in die mond, met geure van sitrus, fynbos en vinkel wat die sterk mineraalsmaak komplementeer. Die wyn kos R155 per bottel.

 

Circumstance Sauvignon Blanc 2010

 

Die Circumstance Sauvignon Blanc 2010 vind sy herkoms in soortgelyke hoogliggende wingerde op die suidelike hange van die Schapenberg, en behou die tipiese mineraalagtige karakter van die Waterkloof-reeks terwyl dit net effens meer uitdrukkingsvol van styl is.

 

Lemmetjie en dille domineer die neus, terwyl die gewig en konsentrasie in die mond gebalanseer word deur ‘n verfynde kruitsmaak wat lei tot 'n lang, elegante en mineraalagtige einde. Hierdie wyn kos R90 per bottel.

 

Peacock Ridge Sauvignon Blanc 2010

 

Die druiwe vir die Peacock Ridge Sauvignon Blanc 2010 is afkomstig van die laer, meer beskutte hange op die plaas waar hulle die grond deel met ‘n trop poue. Die smaak en karakter van dié Sauvignon Blanc is ronder en voller as sy hoogliggende landgoed-genote.

 

Die 2010-oesjaar, wat agt maande op die primêre afsaksels vertoef het voordat dit gebottel is, is ‘n elegante witwyn met ‘n skoon, mineraalagtige kern, dog met ‘n lywiger smaakprofiel. Vinkel- en sitrusgeure lig die ryk, komplekse mondgevoel terwyl ‘n lewendige suurheid varsheid en fokus verleen. Die wyn kos R70 per bottel.

 

Vir meer inligting, skakel Waterkloof by 021-858-1292 of besoek die webtuste by  www.waterkloofwines.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram