Waterkloof onthul nuwe rooiwyn-trio in sy Circumstance-reeks

Date posted:
February 6, 2012

Waterkloof, die kelder buite Somerset-Wes wat spog met sy bekroonde argitektuur en asemrowende uitsigte oor Valsbaai en die omliggende berge, het pas die 2009-oesjaar van sy Cabernet Sauvignon, Merlot en Syrah in sy gesogte Circumstance-reeks bekend gestel.

 

“Die jaar 2009 was ‘n oesjaar waarvan elke wynmaker droom,” verduidelik Werner Engelbrecht, die wynmaker. “Die wyne is die beste wat ek in ‘n baie lang tyd geproe het en hul uitnemendheid is te danke aan twee dinge: die dramaties kleiner oes en die lengte van die groeiseisoen. Weens gunstige omstandighede beskik Waterkloof se wingerde in die algemeen oor ‘n langer ‘dra-tyd’ wat in 2009 115 dae lank was.”

 

In 2009 het Waterkloof sy ultra-moderne gravitasiekelder wat 500 ton druiwe kan hanteer se eerste oes gevier en, soos Werner dit stel, “het Moeder Natuur duidelik haar seën daaroor uitgespreek”.

 

Waterkloof se Circumstance-wyne is afkomstig vanaf hul amfiteater van wingerde wat bio-dinamies geboer word teen die hange van die Schapenberg in die Helderberg-wynlandstreek. Die besonderse styl van elk van die wyne word gekenmerk deur ‘n unieke simfonie van omstandighede wat uiteenlopende grondsamestellings insluit, asook ligging en eiesoortige karakter, sowel as die spesifieke mikro-klimaat van elk van die wingerde – vandaar die naam Circumstance vir die reeks.

 

“As gevolg van die nabyheid van Valsbaai en ons hoë ligging bo seevlak, verseker ons koeler klimaat die perfekte groeitoestande vir ‘n stadige rypwordproses om sodoende intense geure, kompleksiteit en finesse aan die druiwe te verleen,” verduidelik Werner. 

 

Die Circumstance Cabernet Sauvignon 2009 se druiwe kom vanaf  wingerde wat so hoog as 280 meter bo seevlak strek en baat by die sterk suidooster wat gedurende die groeiseisoen kwaai woed en help met die beheer van die groei, die grootte van die oes en die gehalte van die druiwe wat uiteindelik hulle pad na die kelder vind.

 

Waterkloof se klimaat is veral geskik vir merlot. Koeler weer gedurende die groeiseisoen is voordelig vir dié variëteit se karakter, asook die kleur en struktuur van die druiwe om ‘n gebalanseerde, natuurlike suur, ryp tanniene en gekonsentreerde smake aan die wyn te verleen. Die druiwe vir die Circumstance Merlot 2009 is afkomstig vanaf wingerde wat 260 meter bo seevlak troon.                                                                                             

 

Die Circumstance Syrah 2009 wat volgens die Rhône-styl gemaak is, vind sy herkoms van hoogliggende wingerde op die suidelike hange van die Schapenberg.

 

“Soos ons syrah dit elegant uitbeeld, beskou ons Schapenberg as een van die beste koelklimaat-wynbouareas in Suid-Afrika,” voeg Werner by.

 

Al die druiwe is in oop houtvate gegis, en in Werner se poging om eiesoortige wyne te skep, het hy oudergewoonte staat gemaak op ‘n natuurlike gistingsproses. Die druiwe het 30 tot 35 dae op die doppe vertoef en die wynmaker het deur middel van gravitasie oortollige oorpomp en hantering van die wyn vermy.

 

Die Circumstance Cabernet Sauvignon 2009 is 22 maande lank in nuwe (40%) en ouer Franse eikehoutvate verouder waarna dit ‘n verdere twee maande in die tenk gekuier het voordat die wyn gebotteleer is. Die Circumstance Merlot 2009 is vir 20 maande lank in nuwe (30%) en ouer Franse eikehoutvate verouder, terwyl die Circumstance Syrah 2009 ook 20 maande in nuwe vate van 600? vertoef het.

 

Bedien die Cabernet, wat R155 kos, met gebraaide biefstuk, terwyl die Merlot jou R140 uit die sak sal jaag, maar met oondgebraaide lamsvleis of geurige wildsvleis die pyn sal verlig. Die Syrah, wat ook R155 kos, kan bedien word met rooivleis of lywige wintersgeregte soos wildsvleispastei.

 

Die Circumstance-reeks is beskikbaar by Waterkloof, uitgesoekte wynhandelaars en glansrestaurante. Vir meer inligting en wynbestellings, skakel 021 858 1292 of besoek www.waterkloofwines.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram