Waterkloof onthul nuwe Circumstance-rooiwyne

Date posted:
February 11, 2010

Waterkloof, die nuwe kelder buite Somerset-Wes wat spog met sy indrukwekkende argitektuur en asemrowende uitsig oor Valsbaai, het sopas die 2007-oesjaar van sy Merlot en Cabernet Sauvignon in die gesogte Circumstance-reeks bekend gestel.

 

Hierdie idilliese wynlandgoed se Circumstance-wyne is afkomstig vanaf ‘n amfiteater van hoogliggende wingerde van gehalte wat troon teen die hange van die Schapenberg in die Helderberg-wynlandstreek – ‘n area wat beskou word as een van die beste koelklimaat-wynbouareas in Suid-Afrika. 

 

Die besonderse styl van elk van Waterkloof se Europees-geïnspireerde wyne word gedefinieer deur ‘n unieke simfonie van omstandighede. Dit sluit in die uiteenlopende grondsamestellings en die ligging en eiesoortige karakter en spesifieke mikro-klimaat van elk van die wingerde wat elkeen ‘n belangrike rol speel in die vervolmaking van die wyn - vandaar die naam Circumstance.

 

“Te danke aan die nabyheid van Valsbaai en ons hoë ligging bo seevlak, verskaf ons koeler klimaat die perfekte groeitoestande vir ‘n stadige rypwordinsproses om sodoende intense geure, kompleksiteit en finesse by die druiwe in te boesem,” verduidelik Waterkloof se wynmaker, Werner Engelbrecht. 

 

Waterkloof se klimaat is veral geskik vir merlot. Koeler weer gedurende die groeiseisoen is voordelig vir dié variëteit se karakter, asook die kleur en struktuur van die druiwe om ‘n gebalanseerde, natuurlike suurheid, ryp tanniene en gekonsentreerde smake aan die wyn te verleen. Die druiwe vir die Circumstance Merlot 2007 is afkomstig vanaf 12-jaaroue wingerde wat 260 meter bo seevlak troon.

 

Die Circumstance Cabernet Sauvignon 2007 vind sy oorsprong selfs nog hoër, vanaf wingerde wat so hoog as 280 meter bo seevlak strek en baat by die sterk suidooster wat gedurende die groeiseisoen waai en help met die beheer van die groei, die oesgrootte en die gehalte van die druiwe wat uiteindelik hulle pad na die kelder toe vind.

 

Die Circumstance Merlot 2007 is vir 20 maande lank in nuwe en ouer Franse eikehoutvate verouder, terwyl die Circumstance Cabernet Sauvignon 2007 22 maande lank in nuwe en ouer Franse eikehoutvate verouder is, waarna dit ‘n verdere twee maande in die tenk gekuier het voordat die wyn gebotteleer is.

 

Die Circumstance Merlot 2007 is ‘n sysagte wyn met uitstekende struktuur, finesse en subtiele, delikate tanniene, maar met genoeg ruggraat om uitstekend te verouder oor die volgende tien jaar. Die Merlot bied sjarme in ‘n komplekse styl met ‘n sappige vrugtigheid en spesery-ondertone wat langsaam talm. Dit liefkoos met ryk lae van ryp swartbessie en pruim in die mond met ‘n tikkie soet kinderjare-se-drop wat die smaak afrond. Bedien met oondgebraaide beesvleis en geurige wildsvleis. Die wyn kos R120 per bottel.

 

Die Circumstance Cabernet Sauvignon 2007 is ‘n klassieke toonbeeld van die Waterkloof-landgoed en spreek van elegansie en integriteit. Sappige bessieskakerings word ondersteun deur ‘n fyn tannienstruktuur terwyl ‘n lang lengte grasieus deurgevoer word in die mond. Die wyn beskik oor al die kenmerkende, aardse aromas en mokka-geure wat eie is aan ‘n cabernet sauvignon van gehalte. Bedien met springbok-lendestuk of T-beenbiefstuk met Béarnaise-sous. Die wyn kos R120 per bottel.

 

Einde

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram