Waterkloof onthul eetplek teen die heuwelhange

Date posted:
December 17, 2009

Die Waterkloof-wynlandgoed se nuwe glansryke restaurant, ‘n moderne dog onopgesmukte eetplek met sy indrukwekkende ligging teen die hange van die Schapenberg aan die buitewyke van die Helderberg, neem letterlik die gehalte en gewildheid van ‘n wynland-eetervaring na groter hoogtes.

 

Die 10 meter-hoë, glasomhulde restaurant is stylvol uitgerus teen ‘n asemrowende agtergrond van ‘n nimmereindigende uitsig oor Waterkloof se amfiteater van wingerde, asook die uitgestrekte prag van Valsbaai in die verte. Die restaurant vloei uit ‘n ruim, spoggerige wynproe-area wat grens aan Waterkloof se wêreldklas-gravitasiekelder.

 

Waterkloof se Boergondiese sjef, Grégory Czarnecki, is ‘n koskenner, aangevuur deur ‘n dekade se ondervinding wat hy in die mees gesogte Michelin-ster-restaurante in Frankryk opgedoen het. Om by hom aan te sit, onthul ‘n tydsame verlustiging van eietydse disse wat aangevul word deur die landgoed se Europese styl-wyne.

 

 

Links: Gregory Czarnecki geniet 'n Waterkloof-wyntjie.

 

 

Grégory deel sy kookvernuf met gaste vanuit ‘n oopplankombuis wat harmonieus inpas by die industriële dekor van warm, dieprooi hardehout, sement en glas, en bied ‘n gesofistikeerde spyskaart van eerlike, klassieke fynproewergeregte met ‘n moderne Franse aanslag – alles bedien met ‘n asemrowende, ongehinderde arendsblik oor die plaas.

 

’’Ek put inspirasie uit mense wat lief is vir kos en wyn, asook uit diegene wat groot waardering koester vir kos- en wyn-parings. Smulpape wat op soek is na die beste plaaslike smake wat wyn moeiteloos en met ‘n natuurlike aanvoeling komplementeer,” vertel Grégory. Saam met sy gedugte kombuisspan beoog hulle om ‘n voortreflike wenkombinasie van tekstuur, smaak en geur met elke dis op te lewer.

 

Die Waterkloof restaurant kan altesaam 120 gaste binne en buite akkommodeer, en bedien middag- en aandetes vanaf Maandae tot Saterdae, en slegs middagete op Sondae.

 

Om jou tafel te bespreek, skakel die Waterkloof-wynlandgoed op 021 858 1491 of stuur ‘n epos na restaurant@waterkloofwines.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram