Waterkloof onthul eerste Circle of Life-rooiwyn

Date posted:
October 13, 2010

Waterkloof, die idilliese wynplaas buite Somerset-Wes wat bekend is vir sy repertoire van elegante Europese  styl-wyne en passievolle toewyding tot volhoubare boerdery, spog met ‘n nuwe rooiwyn in sy stal, Circle of Life Red 2008.

 

Geskoei op dieselfde “bloudruk” as dié van die die Circle of Life White 2009 wat vroeër vanjaar sy debuut gemaak het, is hierdie rooi uitgawe ook ‘n alomvattende uitdrukking in smaak van die landgoed se unieke ligging met sy uiteenlopende grondsamestellings en klimaatstoestande – maar dié keer tot die genot van rooiwynliefhebbers.

 

“Die naam, Circle of Life, vier die hernuwing van die natuur. Die wingerde ontwaak in die lente om te groei en te produseer tot en met die aanbreek van winter wanneer hulle ’afsterwe’, net om weer hergebore te word met die aanbreek van ‘n nuwe seisoen. Ons Circle of Life-tweeling is geïnspireer deur hierdie ongelooflike natuurwiel wat net aanhou draai en draai,” verduidelik Waterkloof se wynmaker, Werner Engelbrecht.

 

Waterkloof se Circle of Life Red 2008 is ‘n crescendo van unieke omstandighede afkomstig vanaf uitgesoekte wingerde – waarvan party strek tot bykans 300 meter bo seespiëel – wat ieder daadwerklik bygedra het tot die vervolmaking van die verskillende komponente in die versnit.

 

“Ons Circle of Life Red 2008 is nie ‘n wyn wat deur ‘n spesifieke wingerd of variëteit geïnspireer is nie, ook nie deur ‘n spesifieke styl, soos byvoorbeeld ‘n Bordeux-versnit, nie. Dit is een wat die totaliteit, filosofie en spesifieke hoedanigheid van Waterkloof verteenwoordig,” voeg Werner by.

 

Die Bordeaux-kultivars wat gebruik is in die versnit is eers ontstingel, terwyl die Rhône-variëteite, afhangende van die rypheid van hulle stingels, sommer tros en al gegis is, maar Werner is huiwerig om die presiese komponente waaruit hierdie versnit bestaan, te onthul, siende dit die wyn dalk van sy mistieke sjarme kan ontneem.                                                              

 

Die Waterkloof Circle of Life Red 2008 is ‘n klassieke wyn met seder- en ryp swartbessiegeure, omhul in ‘n elegante raamwerk van sysagte tanniene. Die wyn sal met die tyd meer kompleks word.

 

Dié rooiwyn is ‘n voortreflike keuse saam met pangebraaide koedoefilet met ‘n kors van fyngekapte roosmaryn en tiemie, of probeer dit saam met ‘n Provensaalse lamsbredie.

 

Waterkloof Circle of Life Red 2008 is beskikbaar vanaf R180 per bottel, direk vanaf die kelder of by uitgesoekte wynhandelaars landwyd.

Vir meer inligting en bestellings skakel Waterkloof by 021 858 1292 of besoek www.waterkloofwines.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram