Waterkloof het pas die jongste oesjaar van sy eksklusiewe Circle of Life White onthul wat meesterlik die algehele wese van dié landgoed se amfiteater van “bio-dinamiese wingerde in die wolke” aan die hange van die Schapenberg buite Somerset-Wes weerspiëel.
Hierdie elegante witwyn, wat die integrale elemente van die natuur en Waterkloof se passievolle toewyding tot volhoubare boerdery koester, is ‘n alomvattende uitdrukking in smaak van die landgoed se unieke ligging teen die hange van die Schapenberg met sy uiteenlopende grondsamestellings en klimaatstoestande.
“Ons fokus was nog altyd om die individuele eienskappe en kenmerke van Waterkloof se wingerde beter te ‘verstaan’, en hoe die verskillende wingerdblokke op verskeie liggings op die plaas uiteenlopende wyne produseer wat heeltemal van styl verskil. Ons Circle of Life-reeks, wat ook ‘n rooiwyn insluit, is een wat Waterkloof in sy volle glorie vasvang,” verduidelik die wynmaker, Werner Engelbrecht.
“Die naam, Circle of Life, vier die hernuwing van die natuur. Die wingerde ontwaak in die lente om te groei en te produseer tot en met die aanbreek van winter wanneer hulle afsterwe, net om weer hergebore te word met die aanbreek van ‘n nuwe seisoen. Ons Circle of Life is geïnspireer deur hierdie ongelooflike natuurwiel wat net aanhou draai en draai,” voeg Werner by.
Waterkloof Circle of Life White 2011 is nie ‘n wyn wat deur ‘n spesifieke wingerd, variëteit of styl geïnspireer is nie, maar eerder ‘n wyn wat die totaliteit, filosofie en spesifieke hoedanigheid van Waterkloof onthul.
Die druiwe is met die hand gepluk en tros en al delikaat in Waterkloof se ultra-moderne gravitasiekelder gepars om te verseker dat die herkoms en kwaliteit van slegs die beste druiwe in die bottel vasgevang word. As deel van hul ‘ongejaagde’ wynmaakproses maak Werner en sy span ook slegs staat op natuurlike gisting in al hulle wyne.
Die verskillende wyne waaruit die Circle of Life 2011 bestaan, is elk afsonderlik gemaak en vir tien maande verouder voordat dit versny is. ‘n Gedeelte van die wyn (50% van die versnit) is in ou eikehoutvate verouder wat ‘n rykheid en gewig aan die mondgevoel verleen.
Met sy aanloklike lemmetjie- en perske-aromas is die Waterkloof Circle of Life White 2011‘n intense dog elegante wyn met uitstekende balans. Die kontras tussen die skoon mineraalagtige kern en romerige middelmondgevoel verleen uitstekende kompleksiteit, tekstuur en ‘n talmende nasmaak aan die wyn.
Probeer gerus hierdie eiesoortige wyn saam met kreef-linguine bedien met brandrissie, lemmetjie en vars koljander.
Waterkloof Circle of Life 2011 is beskikbaar vanaf R120 per bottel by die kelder of by uitgesoekte wynhandelaars en restaurante landwyd. Vir meer inligting en wynbestellings, skakel Waterkloof by 021 858 1292 of besoek
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast