Waterkloof-kelder onthul nuwe Circumstance-witwynduo

Date posted:
May 29, 2009

Waterkloof, geleë op die kruin van die Schapenberg in die Helderberg-wynland, het pas die 2008-oesjare van die Chenin Blanc en Viognier in sy gesogte Circumstance-reeks bekend gestel – ‘n dubbeldoor-toevoeging van individuele uitdrukkings tot die landgoed se versameling Europese styl-wyne.

 

Alhoewel dié twee in styl verskil en elk in eie reg uiting gee aan sy unieke plek van herkoms, spreek beide die Circumstance Chenin Blanc 2008 en Circumstance Viognier 2008 van elegansie en integriteit, en beskik elkeen oor ‘n lang lengte wat grasieus deurgevoer word op die tong.   

 

Hierdie idilliese wynlandgoed se Circumstance-wyne is afkomstig vanaf ‘n amfiteater van gehalte, hoë- en laagliggende wingerde, waar uiteenlopende grondsamestellings en seebriese vanaf Valsbaai die perfekte groeitoestande bied vir ‘n stadige rypwordproses. Dit bied aan die druiwe die geleentheid om hul intensiewe smake, kompleksiteit en finesse langsaam en ten volle te ontwikkel. 

 

“Die besonderse styl van elk van ons klassieke wyne word gedefinieer deur die unieke simfonie van omstandighede, insluitende die grond, ligging en eiesoortige karakter van die wingerde, wat elk ‘n belangrike rol speel in die vervolmaking van ‘n wêreldklas-wyn - vandaar die naam ‘Circumstance’ vir die reeks,” verduidelik die wynmaker, Werner Engelbrecht.

 

Die Circumstance Chenin Blanc 2008, wat slegs in beperkte hoeveelhede beskikbaar is, kom vanaf ou bosstok-wingerde wat hulle optimale balans bereik het in terme van groei en produksie.

 

Die druiwe is, tros en al, delikaat gepars en slegs die beste sap is ontgin waarna natuurlike gisting oor ‘n tydperk van nege maande plaasgevind het. Vatveroudering het plaasgevind vir ‘n verdere twee maande om aan die wyn sy veelvuldige dog harmonieuse vrugte-aromas en rondheid te verleen. Slegs ‘n ligte filtrasie was gedoen voor botellering. 

 

Die Circumstance Chenin Blanc 2008 streel met ‘n ryk spektrum van sitrus, appel en heuning in die mond, met natuurlike mineraalagtige finesse op die kern. Verdere kompleksiteit kan verwag word soos die wyn verouder. Geniet saam met gerookte salm of ‘n varklende met salie en sampioene.

 

Die uitgelate Circumstance Viognier 2008 vind sy oorsprong in laeopbrengswingerde aan die hange van die majestieuse Schapenberg waar die wind gereeld sy passies dans en dus kleiner volumes en intense geure oplewer.

 

In sy poging om ‘n eiesoortige styl te skep, het Werner berus by

‘n natuurlike gistingsproses wat vier maande geduur het. Die wyn het ook ‘n verdere ses maande in eikehoutvate deurgebring voordat dit gebottel is.

 

Stralend met ‘n besonderse goue skynsel, is die Circumstance Viognier 2008 ‘n stylvolle voorbeeld van dié modieuse Rhône-variëteit. Geure van perskepit en viooltjies, verryk met ‘n sweempie appelkoos, talm langsaam tot ‘n skoon, mineraalagtige nasmaak. Geniet saam met Thai-geregte.

 

Die Circumstance Chenin Blanc 2008 verkoop vir R78 per bottel, terwyl die Circumstance Viognier 2008 R73 per bottel kos.

 

Hierdie wyne is beskikbaar direk vanaf die kelder, asook by uitgesoekte wynhandelaars en glansrestaurante.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram