Waterkloof in wese vasgevang in nuwe Circle of Life White

Date posted:
February 18, 2011

Waterkloof het pas die 2010-oesjaar van die landgoed se eksklusiewe Circle of Life White onthul wat meesterlik die algehele wese van dié landgoed se amfiteater van “wingerde in die wolke” weerspiëel. Hierdie elegante witwyn, wat die integrale elemente van die natuur en Waterkloof se passievolle toewyding tot volhoubare boerdery koester, is ‘n alomvattende uitdrukking in smaak van die landgoed se unieke ligging teen die hange van die Schapenberg met sy uiteenlopende grondsamestellings en klimaatstoestande.

 

“Die naam Circle of Life vier die hernuwing van die natuur. Die wingerde ontwaak in die lente om te groei en te produseer tot en met die aanbreek van winter wanneer hulle afsterwe, net om weer hergebore te word met die aanbreek van ‘n nuwe seisoen. Ons Circle of Life is geïnspireer deur hierdie ongelooflike natuur-wiel wat net aanhou draai en draai,verduidelik Waterkloof se wynmaker, Werner Engelbrecht.

 

Die naam is dus ook heel gepas siende Werner en sy span ‘n biodinamiese leefwyse op die plaas nastreef, met diere wat ‘n groot rol in Waterkloof se holistiese benadering speel. Hulle gebruik byvoorbeeld die mis van Dexter-koeie in plaas van konvensionele plaagdoders, bestrydingsmiddels en kunsmis in die wingerde, en verkies pure Percheron-perdekrag bo die gebruik van trekkers om te help met grondvoorbereiding en –kondisionering.

 

Werner voeg by dat die Circle of Life White 2010 nie ‘n wyn is wat deur ‘n spesifieke wingerd,  kultivar of styl geïnspireer is nie, maar eerder ‘n crescendo is van unieke omstandighede afkomstig vanaf uitgesoekte wingerde wat bygedra het tot die vervolmaking van die verskillende komponente in die versnit. Of soos hy dit stel, “’n wyn wat die totaliteit, filosofie en spesifieke hoedanigheid van Waterkloof onthul”.

 

Die druiwe vir die Circle of Life White 2010 is met die hand gepluk en tros en al versigtig in Waterkloof se ultra-moderne gravitasiekelder gepars om te verseker dat die herkoms en kwaliteit van slegs die beste druiwe in die bottel vasgevang word.

 

Werner berus by tradisionele wynmaaktegnieke met ‘n minimalistiese toenadering en hy en sy span poog om so min as moontlik in te meng met die natuurlike ontwikkeling van die wyn. As deel van hul “ongejaagde” wynmaakproses maak hulle ook slegs staat op natuurlike gisting in al hulle wyne, insluitende die Circle of Life White 2010.

 

Die verskillende wyne waaruit die versnit bestaan, is elk onderskeidelik gemaak en vir tien maande verouder voordat dit versny is. ‘n Gedeelte van die komponente (40% van die versnit) is in ou eikehoutvate verouder, wat ‘n aanloklike rykheid, kompleksiteit en gewig aan die mond verleen.

 

Waterkloof Circle of Life White 2010 het ‘n bekorende groen gelaat en verlei met delikate sitrusgeure. Die kontras tussen die skoon, mineraalagtige kern en romerige middelmond verleen uitstekende kompleksiteit en ‘n talmende nasmaak aan die wyn.

 

Waterkloof Circle of Life 2010 is beskikbaar vanaf R140 per bottel, direk vanaf die kelder of by uitgesoekte wynhandelaars en restaurante landwyd.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram