Terwyl kenners steeds probeer bepaal hoeveel waarde Suid-Afrika se aanbieding van die 2010 FIFA-wêreldbeker toegevoeg het, het die wynbedryf beslis daarby gebaat. Ondanks ’n steeds sterk rand en ’n uitgerekte wêreldwye resessie, styg uitvoere van verpakte wyn steeds.
Volgens Su Birch, die uitvoerende hoof van Wines of South Africa (WOSA), was daar ’n merkbare toename in verkoopsvolumes in van die lande met ’n groot sokkergevolg.
“Vir die 6 maande tot einde Junie het die volumes van verpakte wyn wat na Duitsland uitgevoer is met ’n indrukwekkende 50% gestyg. Uitvoer na die VSA wat, interessant genoeg, uit die buiteland die meeste kaartjies vir wedstryde gekoop het, het in dié tyd met 32% gestyg. Volumegroei was in die geval van Kanada, Finland en België in dubbelsyfers, nes dié vir Ierland, ondanks die feit dat dié land veral swaar deur die ekonomiese afswaai getref is.
“Ewe opwindend is ’n toename van 33% wat Japan betref, en dat verkope na sowel die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) as China verdubbel het, hoewel dit van ’n laer basis is. Selfs verkope aan mededingerlande soos Frankryk, Nieu-Seeland en Frankryk het toegeneem.”
Distell se Nederburg-handelsmerk, die enigste wynhandelsmerk in Suid-Afrika met die reg om die amptelike FIFA-kenteken te gebruik, en wat ’n drietal wyne geskep het om Suid-Afrika se aanbieding van die toernooi te gedenk, meld ook sterk toenames in verkope na talle lande met ’n groot sokkergevolg.
Carina Gous, Distell se groephoofbestuurder: wyne, sê dat Duitsland, die VK, Ierland, Nederland, België, Kanada asook die VAE, Brasilië en Mexiko vir hoogtepunte gesorg het. Haar maatskappy hoop dat blootstelling aan dié handelsmerk, en Suid-Afrikaanse wyn in die breë, op lang termyn groter voordele vir die plaaslike wynbedryf sal meebring.
Birch sê die trefkrag van die wedstryde is nie tot buitelandse verkope beperk nie. Sommige produsente meld ook uitstekende binnelandse verkope aan. Vinimark, die grootste onafhanklike spesialis-wyngroothandelaar in die land, wat talle van die voorste plaaslike wynname verteenwoordig, meld dubbelsyfer-groei in verkope aan die gastebedryf aan in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Dít terwyl die bedryf elders ter wêreld ’n aansienlike daling in verkope by gelisensieerde persele ervaar het. Verkope van Groot Constantia se wyne het in Junie vanjaar in vergelyking met Junie 2009 met 10% gestyg, en dié historiese landgoed reken dat hy in Julie selfs beter sal vaar. Net so het die Warwick-landgoed in Stellenbosch ’n toename van 58% in binnelandse verkope ervaar in Junie.
Birch dink die toernooi het talle ontasbare voordele meegebring, soos meer sigbaarheid vir Suid-Afrika en sy wyn. Daar sal vorentoe waarskynlik ook meer toeriste na die Kaap kom, wat beteken dat wynuitvoere in die toekoms waarskynlik steeds sal styg.
“Die al groter bewustheid van die land skep geleenthede vir die plaaslike wynbedryf in lande soos Japan, China en Korea, waar min mense nog weet dat Suid-Afrika wyn maak. Ons ervaar reeds die gevolge.”
Michaela Stander, bemarkingsbestuurder van WOSA wie se portefeulje Asië insluit, het agtergekom dat Suid-Afrika en sommige van die land se wyne onmiddellik erkenning geniet toe sy onlangs in daardie streek proe-geleenthede aangebied het.
“Kaapstad-toerisme raam dat sowat drie miljard mense na televisie-uitsendings van die wedstryde gekyk het. As net 0,5% van daardie kykers in die volgende drie jaar na Kaapstad toe sou kom, sal die stad se huidige internasionale besoekertal van 1,8 miljoen na 4,8 miljoen mense toeneem. Dit sal uit die aard van die saak gunstige gevolge vir die wyn- en gastebedryf hê.”
Birch bevestig dat WOSA steeds uit ’n groter internasionale bewustheid van Suid-Afrika munt slaan. “Die geraas van die vuvuzelas is nou dalk stil, maar ons lei steeds tot die einde van die jaar wynkelners op om die plaaslike gastebedryf te steun. Boonop vind die eindstryd van ons Sommelier-wêreldbeker, wat 12 lande in Europa, Noord-Amerika en Korea betrek, in Oktober in die Kaap plaas.
“Ons wil hê meer verbruikers moet ons land se aanbiedings koop – nie net van kleinhandelaars se rakke af nie, maar ook van wynlyste. Die Sommelier-wêreldbeker is gerig op die uiters invloedryke groep mense wat toegang tot uit-eters verleen.”
Die finaliste gaan ’n week in die Kaap deurbring, en gaan regstreeks aan die bedryf blootgestel word deur produsente en restauranteienaars te ontmoet, sê sy. “Dié inisiatief sal beslis help om respek vir en lojaliteit teenoor Suid-Afrika as produsent van ’n opwindende en uiteenlopende verskeidenheid van wyne van gehalte in alle prysklasse te skep.”
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast