Die De Krans Wynkelder by Calitzdorp is onlangs beloon met ’n vyfstergradering in die wyntydskrif WINE. Benewens die feit dat dit die enigste Cape Tawny Port NV op die proe was wat vyf sterre los geslaan het, is hierdie uitmuntende wyn reeds talle lofbetuigings in die verlede toegeswaai. Dit het verlede jaar die titel as algehele Kampioen Port in Suid-Afrika op die 2009 Peter Schulz Port Challenge los geslaan en het ook ’n vyfstergradering in die gesaghebbende 2010- John Platter South African Wine Guide ontvang.
WINE se paneel beoordeel die verskillende sub-kategorieë van portwyn volgens die riglyne van die Suid-Afrikaanse Portproduseerdersvereniging. Die De Krans Cape Tawny Port NV (die naam “Tawny” is afgelei van die kleur) toon die die voordele van lang houtveroudering, is geelbruin (of kopergoud) in kleur en het ’n gladde, ligte tekstuur en speseryagtige, effe neutagtige geure. Hierdie port is streelsag in die mond en terg met ’n koffie-toffie- en neutagtige karakter.
Die De Krans Cape Tawny Port NV word aanbeveel met bruin uiesop, koffie en sjokolade, en kos sowat R85 per bottel.
Die De Krans Cape Vintage Reserve Port 2008, wat later vanjaar vrygestel word, sal na verwagting in die voetspore van die 2006-oesjaar volg. Laasgenoemde was die beste port op die 2009- portproe van WINE en het 4½ sterre verdien. Dit het ook ’n vyfstergradering in die 2009- Platter-wyngids ontvang. Die 2008-weergawe het sterk aromas van pruimedante, speserye en tabak, met ’n mondvol stewige geure. Dit het uitstekende verouderingspotensiaal. Geniet hierdie vlagskip-portwyn, wat sowat R145 kos, in die koue wintermaande op sy eie of bedien met sterk kase.
Laaste maar nie die minste nie is die De Krans Cape Vintage Port 2007 wat 3½ sterre ontvang het, ’n uitstekende prestasie vir hierdie baie bekostigbare Vintage Port (dit kos sowat R70 per bottel) wat ook ’n vierstergradering in Platter verdien het.
Vir meer inligting oor hierdie en ander wyne in die De Krans-reeks, besoek gerus die webblad by www.dekrans.co.za, of skakel Helet of Bessie op die plaas by 044-213-3314.
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast