Vrugtige en veelsydige nuwe Fleur du Cap Chenin Blanc

Date posted:
January 21, 2010

Fleur du Cap het pas ’n nuwe oesjaar van een van sy staatmakers in die gewilde Bergkelder-reeks vrygestel, die effe-gehoute Fleur du Cap Chenin Blanc 2009 met vars, aanloklike vrugtesmake.

 

Die nuweling met sy ryk kompleksiteit en uitgelate vrugte-aromas is ‘n veelsydige wyn wat elke dag geniet kan word.

 

“Die wyn floreer met geure van heuning-bloeisel, ryp spanspek en koejawel in die neus, afgerond deur slegs ‘n sweempie eikehout, terwyl dit botterkaramel en vanielje in die mond vertoon met ‘n puik balans tussen vrugte- en houtgeure,” aldus Pieter Badenhorst, die wynmaker. 

 

Pieter ag die Fleur du Cap Chenin Blanc 2009 as ‘n wyn wat goed met kos gepaard gaan en tog wynliefhebbers goeie waarde vir geld bied.

 

“Hierdie is ‘n baie veelsydige wyn wat in sy eenvoud geniet kan word en steeds briljant saam met kos voorgesit kan word. Die wyn staan sonder moeite sy man teen geurige disse, sowel as ryk pastadisse en speseryagtige Thai-disse. Chenin blanc is soos ‘n Swiss Army-knipmes – jy kan enigiets daarmee verrig,” verduidelik Pieter.

 

Suid-Afrika is een van die voorlopers wat die produksie van chenin blanc betref en volgens die Suid-Afrikaanse Wynbedryf-inligting en -stelsels (SAWIS), is dit die algemeenste druifsoort in Suid-Afrika met die meerderheid van wingerde wat die ouderdom van 40 jaar oorskry.

 

“Chenin blanc word reeds vir meer as 300 jaar lank in Suid-Afrika geproduseer en ons kan trots wees op wat ons tot dusver met dié variëteit bereik het. Dit is een van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se ware werkesels, en om die tyd te neem om ‘n goeie chenin blanc te maak, is bloot om terug te gee wat dit aan ons gegee het,” las Pieter by.

 

Fleur du Cap Chenin Blanc 2009 is beskikbaar teen ongeveer R40 by wynhandelaars landwyd. Vir meer inligting, besoek www.fleurducap.co.za

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram