Vondeling vier ‘Sewe Dae van Shiraz’ met wildsvleis-feesmaal

Vondeling Wines aan die voet van die Voor-Paardeberg agter die Paarl gaan eersdaags “Sewe Dae van Shiraz” vier waartydens die wynmaker, Matthew Copeland, en die sjefs Craig Cormack en Beau du Toit van The Goose Roasters shiraz en wildsvleis bymekaar sal pas. Hierdie “huwelik” tussen Vondeling se bekroonde shiraz-wyne en ’n viergang- wildsvleisgeïnspireerde feesmaal vind op Donderdag, 14 Junie, op die landgoed plaas.

“Sewe Dae van Shiraz” is die skepping van die Shiraz-vereniging en vind in die hart van die winter plaas tussen 10 en 17 Junie. Winter is sinoniem met rooiwyn en rooivleisgeregte en hierdie fees bied die ideale geleentheid om die fors, meer speseryagtige shiraz-wyne met wildsvleisdisse te kombineer en sodoende groter blootstelling te gee aan een van Suid-Afrika se gewildste en gesogste rooi kultivars, shiraz (ook bekend as syrah).

Die geleentheid op Vondeling volg op die hakke van die bekendstelling van die landgoed se vlagskip-rooiwyn, Monsonia, ’n shiraz-gedrewe Rhône-styl rooi versnit wat ook sy verskyning sal maak op die feesmaal op 14 Junie.

Die aand skop af met ’n verwelkomingsdrankie op die grasperk voor die proelokaal wat uitkyk op die majestieuse Paardeberg. Die viergang-aandete begin met ’n vertikale shiraz-proe waartydens die wyne saam met wildsvleis-kanapees aangebied sal word. Hoe klink wildebeesbiltong-bitterballen en volgraan-mosterd, koedoe-salami, en wildsvleis-carpaccio met pecorino-skaafsels? Genoeg om die mond nou reeds te laat water!

Gaste kan ook uitsien na die dekadente geure van blomkool-puree met eksotiese sampioene en truffel-olie, asook gesmoorde denningvleis met borrie-arancini en appelliefie-atjar.

Die gastronomiese fees op Vondeling sal eindig met appeltert wat in Vondeling Baldrick Shiraz geposjeer is en saam met appelkoos- en amandel-frangipani en amoretto anglaise aangebied word.

“Ek sal ’n proe van Vondeling se ouer shiraz-wyne uit ons wynbiblioteek aanbied, asook jonger wyne soos die Monsonia en die jongste oesjaar van ons gewilde Baldrick,” sê Matthew. “Die wyne in die biblioteek is uiteraard skaars en gewoonlik nie beskikbaar vir die publiek nie.

“Dit was ’n groot plesier om saam met Craig en Beau die spyskaart saam te stel. Hulle het vorendag gekom met heerlike, geurige Suid-Afrikaanse disse wat puik sal pas by die shiraz-wyne. Hierdie is ’n gastronomiese fees in die volle sin van die word.”

Die koste van R450 per persoon sluit die verwelkomingsdrankie, die viergang-aandete, agt wyne uit die Vondeling-portefeulje en diensfooie in. Sitplek word beperk tot 40 gaste om die geleentheid meer uniek en intiem te maak.

Die feesmaal skop om 18:30 af en besprekings met voorafbetaling kan gedoen word met Riki Koch op 021 869 8339 of wine@vondelingwines.co.za.

Om die “Sewe Dae van Shiraz”-inisiatief op ’n hoë noot af te sluit, sal Vondeling ’n shiraz-verkoping op Saterdag, 16 Junie, tussen 9vm en 1nm op die landgoed aanbied. Wildsvleispasteie, biltong, boereworsrolletjies en koffie sal ook beskikbaar wees om die koue te kiering.

Vir meer inligting, besoek www.vondeling.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>