Vondeling: ’n Vonds aan die voet van die Paardeberg!

Die Hollandse woord “vondeling” verwys na ’n onwelkome baba wat iewers gelos word (gewoonlik in ’n kerk). Die kleinding word dan deur vreemde mense gevind (vandaar “vondeling”) en as hul eie met liefde groot gemaak. As mens nou jou verbeelding vrye teuels gee, kan jy die wynlandgoed Vondeling in die gesogte Voor-Paardeberg beskou as die “weggooikind” wat deur ’n Engelsman “gevind” en in ’n ware “kroonprins” omskep is. Met ander woorde, ’n ware vonds!

Maar kom ons gaan eers so bietjie verder terug in die geskiedenis. Die stuk grond is in 1704 aan ’n Sweedse immigrant, Oloff Bergh, toegeken. En as die naam Oloff Bergh vir jou bekend klink, is jy tien teen een ’n liefhebber van brandewyn. In elk geval, so is ’n wynmaaktradisie van meer as drie eeue geskep.

Die kelder, proe- en onthaallokaal en die kapel.

‘n Ander blik op Vondeling.

Die jonger geskiedenis van Vondeling Wines dateer terug na die begin van hierdie eeu en het drie vriende in die hoofrolle, Julian Johnsen, Anthony Ward en Richard Gower. In ’n neutedop: Julian, wat vandag voltyds op Vondeling is, is ’n Engelsman (uit Engeland!) met ’n landboukundige kwalifikasie wat dekades gelede ’n vriend op ’n wynplaas by Wellington kom uithelp het. Een ding het tot ’n ander gelei – soos dikwels gebeur! – en erfgeld het hom in staat gestel om ’n plaas buite Wellington aan te skaf. En toe val Julian se oog op Vondeling. Omdat hy egter nie genoeg geld gehad het om die landgoed alleen te koop nie, het hy sy 10 rykste vriende genader, en Anthony en Richard, Britse sakemanne, het besluit om ’n “leap of faith” met Julian te waag. Goeie sprong gewees daai!

Vandag bestaan Vondeling Wines uit drie plase – Vondeling, Klein Vondeling en David Frost Estate. Klein Vondeling is in 2008 aangeskaf en David Frost, die bekende gholfspeler, se wynplaas in 2011. Die landgoed is ’n trotse lid van die Biodiversiteit- en Wyn-Inisiatief (BWI) … met kampioenskapstatus!

‘n Foto van sommige van die juwele van die Kaapse Blommeryk wat op Vondeling gevind word.

Die omgewingsbewuste benadering tot boerdery en minimale inmenging in die wynmaakproses kom gou na vore wanneer mens tyd met Julian en Matthew Copeland, die wynmaker, deurbring, ’n voorreg wat ek onlangs gehad het. Julian het my die plase gewys, en terwyl ons so deur die wingerde gery het, het dit duidelik geword dat hier groot klem op wingerdbou gelê word want “wyn word in die wingerd gemaak”.

“Jy kan nie goeie wyn van swak druiwe maak nie,” het Julian verduidelik. En wanneer mens Vondeling se wyne proe, word dit duidelik dat daar nét goeie druiwe gebruik word hier. Beslis geen aambeie aan wingerdstokke nie!

Die Vondeling-wyne wat geproe en baie geniet is.

Matthew het my op sy beurt deur die produksie- en verouderingskelders gevat, en ons het ’n klip uit ’n bos gesels oor druiwe, gisting, veroudering, die gebruik van verskillende soorte houtvate, wynmaakfilosofieë en veel meer. Wanneer jou werk net dit is, ’n werk, dan doen jy mos net wat van jou verwag word, maar wanneer dit byna ’n roeping is, soos by Matthew, dan vermag jy dikwels wonderwerke. Ek het my lippe begin aflek … binnensmonds natuurlik!

Jors troelie, Julian en Matthew maak ons kele nat in afwagting op die fees wat wag!

Dis wanneer mens tyd deurbring met wingerdboukundiges, wynmakers en wynboere dat jy ’n groter waardering kry vir wat hulle doen, met hoeveel passie en toewyding dit gedoen word … en dan kry jy ’n groter begrip vir die komplekse en dinamiese proses wat wynmaak behels, die wyne kry groter betekenis en jy geniet en waardeer hulle meer. Daar word baie keer beweer (so half tong in die kies) dat mens die wynmaker in sy wyne kan proe. Wel, Vondeling se wyne is propvol persoonlikheid, charisma, sjarme … en so ’n titsel waagmoed, en ek reken dis te danke aan sowel Julian as Matthew.

Mariaan se bydrae!

Terwyl ons in die ruim proelokaal met sy pragtige uitsigte op die omgewing onsself oorgegee het aan Vondeling se puik wyne en ’n smaaklike platter danksy Mariaan Harris, wat in beheer is van die proekamer en hul funksies reël, het ons verder gesels en het ek uitgevind dat Vondeling net minder as 100 hektaar onder wingerd het, dat die oudste wingerd, sauvignon blanc, byna 40 jaar oud is, gevolg deur ’n chenin blanc-wingerd wat meer as 30 oesjare agter die blad het en ’n wingerd cabernet sauvignon wat raak-raak aan 30. Daar word altesaam 13 kultivars verbou, insluitende minder bekendes soos carignan, grenache blanc, grenache noir, mourvèdre en petit verdot.

En net om te bewys hier word bewaring ernstig opgeneem, is Vondeling se bekende en gewilde Babiana- en Monsonia-vlagskipwyne vernoem na skaars fynbos wat endemies is aan die Paardeberg. In die proelokaal is daar ook vele foto’s van die skaars en asemrowende rykdom van die Kaapse Blommeryk wat op die plase voorkom.

Die weelderige gastehuis op Klein Vondeling.

Vondeling is egter meer as net ’n lekker kuier. Hier’s ook ’n geskiedkundige Kaaps-Hollandse herehuis wat as weelderige gastehuis dien met 7 en suite-kamers (op Klein Vondeling), die St. Clement’s-kapel vir trougieriges en ’n onthaal-area om die vrywillige afskeid van individuele vryheid te vier!

Maar terug na die wyne! Ek het die voorreg gehad om 9 wyne saam met Julian en Matthew te proe terwyl ons ons verlustig het aan die heerlike tapas, van wittes na pienkes na rooies. Die hoogtepunt was die twee vlagskepe, Vondeling se 2016- Babiana (’n versnit van chenin blanc, viognier, grenache blanc, roussanne en chardonnay) en die 2015- Monsonia (’n versnit van shiraz, mourvèdre, grenache noir en carignan). Gelukkig is ek nie gevra watter een my gunsteling was nie want hoe op dees aarde kies jy jou gunsteling uit jou 9 kinders?

Mens kuier in weelde en gerief op Vondeling.

En die pryse? Vondeling se wyne wissel van R70 tot R145, terwyl die Babiana R198 en die Monsonia R215 kos. En lede van die wynklub betaal nog minder! Wanneer kenners sê Suid-Afrikaanse wyndrinkers is bederf met heeltemal te lae pryse, lieg hulle beslis nie. Daar is natuurlik ook beperkte en spesiale wyne wat jou effe meer uit die sak sal jaag, soos die Sweet Carolyn (’n dessertwyn van muscat de frontignan) wat R225 kos, die interessante twee Mèthode Ancestral-vonkelwyne wat sowat R265 elk kos, die Bowwood Pinotage (R335) en die Philosophie wat R720 kos.

Net so terloops, die eerste Vondeling-wyne is gemaak van druiwe uit die 2005-oes en die gemiddelde oes per hektaar is tussen 6 en 8 ton. Die kelder kan sowat 1 000 ton druiwe op ’n slag hanteer.

As jy nog nie ’n draai op Vondeling gemaak het nie, moenie verder uitstel nie. Skakel 021-869-8595 of stuur ’n epos aan info@vondelingwines.co.za vir meer inligting, of besoek www.vondelingwines.co.za.

Word sommer ’n Vondeling-vriend en sluit by die wynklub aan!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>