Vondeling huldig ’n nuwe fynbos-spesie met Monsonia

Vondeling Wines, geleë in die Voor-Paardeberg-area tussen die Paarl en die Swartland, huldig ’n nuwe spesie van Paardeberg-fynbos met ’n naamsverandering vir die landgoed se vlagskip- rooi versnit. Voorheen bekend as Erica, ook ’n fynbos-spesie, is hierdie keldertrots nou herdoop na Monsonia.

Die Monsonia-spesie is vernoem na Lady Anne Monson, die agterkleinkind van Koning Charles II. Sy was bekend as ’n “merkwaardige botanis” en instrumenteel in die vertaling van Linnaeus se bekende “Philosophia Botanica”. Sy het die Kaap die Goeie Hoop in 1774 besoek en die bekende versamelaar van Suid-Afrikaanse plante, Carl Peter Thunberg, vergesel op verskeie ekspedisies in die Kaap. Om sy bewondering van haar te illustreer, het hy later die Monsonia-spesie na haar vernoem.

Algemene name vir Monsonia speciosa (regs) sluit in skoenlapperblom, sambreeltjie en slangblom.

Die Vondeling Monsonia 2015 is ’n versnit van 85% shiraz, 6% mourvédre, 5% grenache noir en 4% carignan. Al die kultivars word op Vondeling in die Voor-Paardeberg verbou. Dis een van die mees gesogte areas in die groter Paarl-wynstreek.

“Ek is opgewonde oor die bekendstelling van die 2015-oesjaar van ons vlagskip- Rhône-styl versnit,” sê Matthew Copeland, die wynmaker. “As ’n sogenaamde ‘bewaringskampioen’ onder die WWF-vaandel is Vondeling verbind tot die beskerming van skaars spesies fynbos wat inheems is aan die Paardeberg. Monsonia huldig een van die mees bedreigde spesies in ons omgewing.”

Die shiraz-stokke vir die versnit groei in antieke, goed verweerde granietgrond aan die suidoostelike hellings van die berg, ideaal vir die warm Suid-Afrikaanse klimaat. Altesaam ses klone van shiraz kan op die plaas gevind word, maar slegs dié wat die beste vrugte oplewer, word in die finale Monsonia-versnit gebruik. Elke kloon dra iets anders by tot die wyn, en die verskillende blokke word gepluk teen wisselende grade van rypheid om elkeen se beste voet na vore te sit.

Slegs groot Franse eikehoutvate word gebruik, met sowat een-derde nuut en die res tweede- en derdevul. Die wyn word toegelaat om vir 16 maande te verouder voordat die finale vatkeuses gemaak word, waarna versnyding en bottelering plaasvind.

Matthew beskryf die Vondeling Monsonia 2015 as ’n wyn met ’n ryk en diep pers kleur propvol aromas van helder viooltjies, donker vrugte, rokerige eikehout, naeltjies, neutmuskaat en koljandersaad. In die mond vertoon dit uitlokkende geure van donker vrugte, ryk sjokolade en sweempies aardse truffel. Die wyn spog met ’n gladde tekstuur en ’n komplekse en speseryagtige einde. Dis die ideale maat vir ontbeende lamsboud, gebraai oor warm kole, en stadig gekookte varkpens met wortelgroente en geroosterde kruie-tamaties.

Die Vondeling Monsonia 2015 is by die landgoed se proelokaal beskikbaar teen R215 per bottel, asook landwyd by spesialis-drankwinkels.

Vir meer inligting, kontak die landgoed by 021 869 8339 of besoek www.vondelingwines.co.za.

EINDE

 

One thought on Vondeling huldig ’n nuwe fynbos-spesie met Monsonia

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>