Volronde, geurige Merlot sluit by Vondeling se Barrel Selection-reeks aan

Aromaties, dinamies en propvol geure! Dit is hoe mens die eerste, houtverouderde Merlot wat deur Vondeling Wines in die Voor-Paardeberg bekend gestel word, kan beskryf. Die wyn vorm deel van die landgoed se Barrel Selection-reeks van ernstige, volronde wyne.

Die Barrel Selection Merlot 2017 het reeds sy stem dik gemaak deur ’n vierstergradering in die Platter-wyngids van 2020 te ontvang, asook ’n goue medalje op verlede jaar se Michelangelo International Wine & Spirits Awards.

Merlot is ’n passie van Vondeling se wynmaker, Matthew Copeland (links). Hy sê hierdie eerste, gehoute Merlot is die ideale toevoeging tot die landgoed se Barrel Selection-reeks en stel die ryk kompleksiteit ten toon wat so kenmerkend is van Vondeling se elegante vlagskip- Bordeaux-versnit, Philosophie.

“Vondeling het reuse-potensiaal om op ’n volhoubare basis ’n volronde merlot van uitstekende gehalte en konsentrasie te maak teen ’n middelklasprys. Ons Barrel Selection Merlot is presies dit. Sy suiwer vrugte en fyn tanniene sorg vir uitstekende drinkbaarheid, terwyl ’n paar jaar se veroudering sy volle potensiaal na vore sal bring,” sê Copeland.

Die druiwe vir die wyn, ’n moderne kloon uit Frankryk, kom uit ’n wingerd teen die steil hange van die Paardeberg. Die wingerd staan heel gepas bekend as die Spice Merlot-blok aangesien die wyn se sappige, donker vrugte puik gebalanseer word deur goed geïntegreerde speserye danksy sy houtbehandeling.

“Hierdie wingerdstokke is byna 20 jaar oud en bied ’n matige oes wat goeie struktuur en intense geure teweeg bring.”

Die Barrel Selection Merlot 2017 het ’n donker robynkleur en bied aromas van swart kersies, soet framboos en laventel in die neus. Geure van sappige rooi bessies en droplekkers sluit in die mond daarby aan. Die mondgevoel is sag met fyn tanniene en die wyn eindig op ’n skoon, talmende noot.

Copeland beveel aan dat die wyn op sy eie geniet word of saam met ’n geurige, tamatie-gebaseerde pasta- of hoendergereg, of pikante lamstjops.

Die Barrel Selection Merlot 2017 bied puik waarde teen R150 per bottel. Dis beskikbaar in die proelokaal of aanlyn by  www.vondelingwines.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>