Viognier in ’n klas van sy eie!

Viognier is ’n witdruifkultivar wat oorspronklik in die Rhônevallei in Frankryk die eerste lig gesien het. Vandag is dit redelik wyd verspreid in die vernaamste wynproduserende streke, insluitend Amerika, Nieu-Seeland, Australië en selfs Israel.

Die wyn word meer dikwels as een van die boustene van ’n versnit gebruik as op sy eie, dikwels in ’n rooi versnit. Dit is veral te danke aan die kenmerkende en sterk geure en aromas van die kultivar.

Viognier is hoofsaaklik medium-vol in karakter en word soms ook in hout verouder. Die tipiese kenmerke is gedroogde vrugte, veral perskes en appelkoos, en bloeisels, aangevul deur blomme, viooltjies en roosterbrood, indien in houtvate verouder. Die ouderdom van die wingerdstokke speel, soos met ander kultivars, ook ’n belangrike rol in die maak van hierdie wyn. Viognier-stokke is op hul beste as hulle tussen 15 en 20 jaar oud is, maar sommige wingerdstokke is al so oud as 70 jaar, veral in Frankryk. Suid-Afrikaanse produsente pas ook batonnage toe, ’n proses waartydens die wyn geroer word en in kontak bly met die moer.

Viognier-druiwe word dikwels vroeg soggens gepluk om die helderste sap vir wynmaak te verseker. Sommige wynmakers laat kontak met die doppe toe, al is dit net vir ’n kort tydjie, veral omdat viognier se doppe heelwat fenole bevat. Fenole is tanniene, kleurpigmente en geurkomponente wat in die doppe, pitte en stingels voorkom, en te lang blootstelling daaraan lei tot ’n olierige gevoel in die mond.

Viognier-druiwe se geure is baie nou verbonde aan die terroir waarin dit gekweek word, en die ideale klimaatsomstandighede is waar daar ’n lang en warm rypwordseisoen is sodat die druiwe teen pluktyd ten volle ryp is. Dit moet egter nie té warm wees nie want dan ontwikkel die druiwe te veel suiker en alkohol voordat die aromas tot uiting kom. Die druiwe lewer gewoonlik ’n lae opbrengs per hektaar en is dus nie ekonomies so gewild soos ander kultivars wat groter opbrengste verseker nie. Dit is ook ’n kultivar wat maklik siektes soos donsskimmel kan opdoen.

Viognier moet oor die algemeen jonk gedrink word. Wyne ouer as drie jaar verloor dikwels van hul aromatiese eienskappe.

Hoender en vis is viognier se beste kos-pasmaats, asook ligte geregte met ’n romerige sous. Bedien dit koud of effens koud.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>